Tuesday 3 December 2013

Lieflike brosbrood





Lieflike brosbrood
Genoeg vir 12

250 ml (1 k) sagte botter
250 ml (1 k) versiersuiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel
500 ml (2 k) koekmeel + ekstra
om oor te sprinkel
125 ml (½ k) mielieblom (Maizena)

Voorverhit die oond tot 160 °C. Voer ’n bakplaat uit met Silpad of bakpapier wat met kleefwerende kossproei gespuit is.

1 Room die botter, suiker en vanielje saam tot dik en romerig.
2 Sif die meel en mielieblom by en meng tot dit net saam kom. Bedek met kleefplastiek en sit vir 20 min. in die yskas.
3 Rol die deeg op ’n meelbestrooide werkvlak uit tot 1 cm dik. Druk met ’n gekartelde 12 cm-koekiedrukker (of ’n vorm van jou keuse) vorms uit die deeg. (Jy kan die deeg wat afgesny is, weer uitrol.)
4 Pak die koekies op die bakplaat en druk met ’n sosatiestokkie ’n gaatjie bo-in elke koekie. Laat rus weer vir 20 min. in die yskas.
5 Bak die koekies vir 30 min. of tot ligbruin en gaar. Laat op draadrakkies afkoel. Ryg ’n lintjie deur elke gaatjie.

MAAK DIT FRAAI

1 Ons het plastiekversiersel uitgerol en uitgedruk met die koekiedrukker waarmee die brosbrood uitgedruk is. Maak ’n klewerige mengsel van versiersuiker en water en plak die versiersel hiermee op die brosbrood vas.
2 Ons het die swart-en-wit roosprentjies op versiersuikerbladsye laat druk. Knip die patrone uit en plak dit op die plastiekversierselbolaag.