Tuesday 26 November 2013

Kalkoen




Kalkoen

Die Kerskalkoen word nie met die vulsel gestop nie. Dit word apart gebak en dan net saam met die kalkoen en sous voorgesit.

1 kalkoen van 5-7 kg, ontdooi indien gevries, goed skoongemaak

Voorverhit die oond tot 150 °C.
Spoel die kalkoen goed af (binne en buite) en druk goed droog met kombuispapier. Geur goed met sout en peper (binne en buite).
Sny twee suurlemoene in stukkies en voeg 'n handvol vars tiemie en pietersielie by. Vul die kalkoen se maaggedeelte daarmee en bind die kalkoen op met tou.
Smeer 'n diep oondbak goed met 'n mengsel van olyfolie en botter.
Sny die uie in skywe en pak dit in 'n enkellaag in die oondbak om 'n "bed" te vorm waarop die kalkoen in die oond rus.
Sprinkel 'n paar tiemietakkies oor die uie en geur goed met sout en vars gemaalde swartpeper.
Druk 'n ekstra suurlemoen oor die ui-en-kruiebed uit.
Giet 'n koppie (250 ml) hoenderaftreksel bo-oor.
Sit die kalkoen bo-op neer en smeer goed met sagte botter.
Bedek en bak vir ongeveer 3-3 ½ uur, of tot gaar. (Toets vir gaarheid deur 'n toetspen of sosatiestokkie in die dikste deel van die vleis te druk.
As die sappe wat uitloop helder is, is die kalkoen gaar).
Haal uit die oond en laat rus vir 30 minute, voor die deksel afgehaal word.
Haal die deksel af en laat afkoel. Sit die kalkoen op 'n dienbord en smeer met 'n mengsel van sagte botter, sout, peper en heuning.
Oondrooster net voor ete vir 20-30 minute (teen 190 °C tot 200 °C) tot 'n diep, goue kleur.

Vulsel
250 g vars witbroodkrummels
12 middelslag-varkworsies, vleis uit worsderms gedruk
1 groen appel, geskil, ontpit en grof gerasper
3 knoffelhuisies, fyn gekap
100 g lig geroosterde amandels, grof gekap
60 ml gekapte, vars pietersielie
45 ml gekapte tiemieblaartjies
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
4 eiers, geklits
60 ml gesmelte botter

Meng die broodkrummels, varkworsievleis, appel, knoffel, amandels, pietersielie, tiemie, sout en peper goed saam. Roer die geklitste eiers en gesmelte botter by. Skep die mengsel in ‘n gesmeerde brood- of koekpan en bedek met foelie. Verkoel tot benodig en bak (net voor ete) vir 30 minute tot gaar. Sny in skywe of blokkies en sit saam met die kalkoen en sous voor.

Sous
Wanneer die kalkoen op die dienbord gesit word, sit die roosterbak (met al die pansouse en uie) op 'n warm stoofplaat en verhit tot kookpunt. Sprinkel 60 ml koekmeel oor, verhit tot kookpunt en voeg nog 250 ml hoenderaftreksel asook 250 ml port by. Kook, terwyl geroer word, tot verdik en gaar. Verpulp tot glad, geur na smaak en voeg ‘n skeut room by, indien verkies.