Monday 25 November 2013

Botterskorsie-en-kaaslasagne




Botterskorsie-en-kaaslasagne
Genoeg vir 8 mense.

 PASTA
 2 botterskorsies, geskil, ontpit en in 5 mm-skywe gesny
 sout en vars gemaalde swartpeper
 50 ml olyfolie
 500 g lasagnevelle
 500 g gekoopte pastasous (romerige sondroëtamatie-en-pecorino)


 KAASLAAG
 450 g ricottakaas, deur ’n sif gedruk
 2 eiergele, geklits
 500 ml gerasperde mozzarellakaas
 200 ml gerasperde parmesaankaas
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n diep oondvaste bak deeglik.

PASTA
Pak die botterskorsieskywe op ’n groot bakplaat.   Geur met sout en peper en sprinkel die olyfolie oor.  Bak 10 – 15 minute in die voorverhitte oond tot net sag.
Kook die lasagnevelle volgens die aanwysings op die pak.  Lig dit versigtig uit die kookwater met ’n gaatjieslepel en plaas direk in ’n bak met koue water.  Dreineer en pak dit uit op ’n skinkbord wat liggies met olie gesmeer is.

KAASLAAG
Meng die ricottakaas, eiergele en driekwart van die mozzarella- en parmesaankaas. 
Skep ’n lagie van die pastasous op die boom van die voorbereide oondbak.  Bedek met ’n laag lasagnevelle.  Rangskik die helfte van die botterskorsieskywe daarop.   Skep die helfte van die kaasmengsel bo-op die botterskorsie.  Herhaal met ’n laag lasagne, pastasous, botterskorsie en kaasmengsel.  Eindig met ’n laag lasagnevelle, skep die res van die pastasous oor en sprinkel die orige mozzarella- en parmesaankaas oor.