Wednesday 27 November 2013

Appelkoos-en-klapperkoekies & Sjokolade-en-karamelkoekies





Appelkoos-en-klapperkoekies

Maak 24 koekies

Hou goed in ’n lugdigte houer vir omtrent 2 weke.

1 Voer ’n 30 cm x 24 cm bakplaat met bakpapier.
2 Smelt 100 g (1/3 k + 2 e + 1 t) botter en 180 ml (¾ k) kondensmelk in ’n kastrol oor matige hitte. Bring tot kookpunt en prut oor lae hitte vir 2 min. terwyl kort-kort geroer word. Verwyder van die hitte.

3 Voeg 250 g gekrummelde tennisbeskuitjies, 150 g appelkose, gesnipper, 90 g klapper en 30 ml (2 e) suurlemoensap by en meng goed. Druk die mengsel in die bereide bakplaat en laat set in die yskas. Sny in blokke.


Sjokolade-en-karamelkoekies


Maak sowat 30 balletjies

Hou vir omtrent 2 weke in die yskas.

1 Kap 100 g (1 blok) donker sjokolade en 100 g (1 blok) melksjokolade fyn en plaas in ’n mikrogolfvaste bak. Stel die mikrogolf op ontvries, en smelt die mengsel, roer elke 30 sek., tot glad.
2 Klop 185 ml (200 g) karamel kondensmelk tot glad en voeg die gesmelte sjokolade daarby.
3 Meng 10 ml (2 t) vanieljegeursel, 8 tennisbeskuitjies, gekrummel, 100 g gekapte droë bosbessies, 75 g gekapte amandels en 30 ml (2 e) versiersuiker by die sjokolademengsel.
4 Rol in balletjies en druk effens plat bo-op. Laat set.