Thursday 19 September 2013

Ystervarkies




Ystervarkies

1 plaatkoek
Stroop
750 ml suiker
60 ml kakao, gesif
30 ml botter
375 ml kookwater
1 pak (500 g) fynklapper

Maak eers dié klits-en-bak-plaatkoek.

Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n gesmeerde oondpan met bakpapier uit. Sit die volgende bestanddele in ’n groot bak: 375 ml strooisuiker, 375 g sagte botter, 6 eiers, 750 ml bruismeel, 15 ml bakpoeier, 2 ml sout, 60 ml melk en 10 ml vanieljegeursel. Klits tot dik en glad.

Skep in oondpan en bak vir 30-35 minute. Laat effens afkoel en keer uit op ’n draadrak. Lewer een groot plaatkoek.
Sny die koek in ewe groot blokkies van 5 cm x 5 cm elk. Verhit die suiker, kakao, botter en water oor lae hitte en roer aanhoudend tot die suiker gesmelt is. Verhit tot kookpunt en laat kook vir 3-5 minute.

Giet in ’n vlak bak. Doop die koekblokkies vinnig aan elke kant in die stroop en rol dan in klapper. Bêre in ’n lugdigte houer. Lewer 50 ystervarkies.