Wednesday 25 September 2013

Mini-hoenderpasteitjies




Mini-hoenderpasteitjies
Dié pasteitjies kry ’n braaihoender-en-sampioenvulsel.

Maak: omtrent 20
Bereidingstyd: 1 uur...
Baktyd: 15 minute Oondtemperatuur: 180 °C

• 4 hoenderdye
• olyfolie
• 1⁄2 ui, fyngekap
• 125 g knopiesampioene, fyngekap
• 2 ml droë tiemie
• 30 ml meel
• 100 ml hoenderaftreksel
• 50 ml melk
• 2 rolle skilferkorsdeeg
• 1 eiergeel

1 Sit die hoender in ’n oondroosterpan, drup olyfolie oor en geur dit met sout en varsgemaalde swartpeper. Rooster die hoender vir 45 minute in die verhitte oond of tot dit heeltemal gaar is. Haal dit uit die oond en laat dit afkoel.

2 Verhit ’n bietjie olie in ’n kastrol en soteer die ui en sampioene saam met die tiemie tot dit sag is. Voeg die meel by en roer dit vir een minuut. Haal dit van die plaat af en voeg die aftreksel en melk by – net ’n bietjie op ’n slag – terwyl jy die heeltyd roer.

3 Vlok die hoender. Verwyder al die vel, bene en kraakbeen, en voeg die vleis by die sampioenmengsel.

4 Gebruik ’n ronde koekiedrukker om sirkels uit die deeg te druk, of sny dit in reghoeke. Verf die rande met ’n bietjie water. Skep ’n teelepel vol van die hoendermengsel op die deegvorms, vou die deeg oor en druk die rande met die tande van ’n vurk vas om dit te seël. Pak dit op ’n gesmeerde bakplaat.

5 Meng die eiergeel met ’n bietjie melk en verf die pasteitjies daarmee. Verhoog die oondtemperatuur tot 200 °C en bak die pasteie vir 12-15 minute of tot dit opgepof en goudbruin is.