Tuesday 17 September 2013

Gekookte eiers



Saggekookte eiers saam met roosterbroodvingers is veral gewild by kinders. Medium- en hardgekookte eiers word dikwels in slaaie en op broodjies gebruik.
Plaas eiers in ’n kastrol en bedek met koue water. Moenie ’n deksel opsit nie. Sit die kastrol op ’n stoofplaat wat op matige hitte gestel is en bring tot kookpunt. Die kooktyd sal afhang van hoe hard die eiers moet wees (sien punt 1 tot 3 langsaan). Hou tyd van die oomblik dat die water begin kook. Wanneer die verlangde tyd bereik is, haal die kastrol van die plaat af en gooi koue water oor die eiers sodat die kookproses dadelik kan stop.
  1. Saggekookte eier – 1½ minute – die eierwit is nog effens rou om die geel.
  2. Medium-gekook – 5 minute – die eierwit en geel is heeltemal gestol, maar die eiergeel is nog effens sag in die middel.
  3. Hardgekook – 10 minute – die eiergeel is nou heeltemal gestol en ligter van kleur soos in die klassieke hardgekookte eier.
Patroon vir eiermussie
Neem penne van 3,75 mm en dubbelbreidraad. Heg aan 28 steke en brei 4 rye dubbelrif (=2 regs, 2 aweregs). Brei reguit vir 14 rye in koussteek. Brei dan vir die volgende rye die steke twee-twee saam totdat daar slegs een steek oor is. Maak vir elke mussie ’n klein pompon en werk dit bo-aan vas. Werk synate toe.