Thursday, 22 August 2013

Vegetaries: Lasagne met botterskorsie en rooi-ui




Vegetaries: Lasagne met botterskorsie en rooi-ui

Dis vining, dis maklik en die meeste van die bestanddele het jy reeds in jou koskas.

Genoeg vir: 4
 Gaarmaaktyd: 25 minute
Oondtemperatuur: 180 °C

• 15 ml sonneblomolie
• 2 rooi uie, in wiggies gesny
• 1 knoffelhuisie, fyngedruk
• 500 g botterskorsie, in blokkies gesny en gestoom
• 1 x 500 ml-fles tamatie-en-basiliesous
• 1 x 500 ml-fles witsous
• 125 ml melk
• 8 lasagnevelle
• 250 ml (100 g) gerasperde mozzarella

1 Verhit die olie in ’n pan. Voeg die uie by, soteer dit vir drie minute en gooi die knoffel by. Braai dit vir ’n minuut. Gooi die botterskorsieblokkies en tamatie-en-basiliesous by. Roer oor hoë hitte vir twee minute.

2 Meng die witsous en melk in ’n beker. Gooi ’n derde in ’n oondskottel. Sit die lasagnevelle bo-op die sous.

3 Skep die helfte van die botterskorsiemengsel op die pasta, en her- haal die lae tot die bestanddele op is. Strooi die kaas bo-oor. Bak dit vir 20 minute in die oond of tot sag. Haal dit uit die oond en laat dit vir 10 minute rus voordat jy opskep.