Friday, 30 August 2013
Hoenderkerrie-pot
Hoenderkerrie-pot
Onthou, jy maak 'n pot, nie 'n bredie nie! ’n Bredie roer jy, maar 'n pot (verkieslik oor 'n houtvuur) roer jy glad nie. Die bestanddele word in lae gepak en moet stadig prut.
(6 porsies)
•15 ml sonneblomolie
•15 ml botter
•9 hoenderdye (met vel)
•2 uie, in ringe gesny
•3 knoffelhuisies, grofgekap
•5 kardemomsade
•1 stuk pypkaneel
•1 lourierblaar
•5 ml fyn gemmer
•1 rooibrandrissie, fyngekap
•5 ml matige kerriepoeier
•5 ml borrie
•5 ml fyn koljander
•3 heel naeltjies
•400 g gekapte tamaties (1 blik)
•6 aartappels, geskil
•sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
•3 kerrieblare
Verhit die olie en botter
in die pot. Braai die hoenderdye tot lekker bruin. Haal dit uit en braai die uie tot sag en deurskynend, maar nie bruin nie. Voeg die knoffel en die speserye (behalwe die peper en kerrieblare) by en braai vir so 2 minute. Plaas die hoender bo-op die mengsel en skep die tamaties oor. Rangskik die aartappels bo-op en geur met sout en swartpeper. Voeg die kerrieblare by. Sit die deksel op en laat stadig prut vir 1 - 1½ uur.