Thursday 28 February 2013

Maak goedkoop nessies met dinge uit jou huis

Hierdie pragtige nessies (foto geleen van die internet) lyk altyd so pragtig, maar wanneer mens begin rondkyk van hoe nou gemaak en hoeveel dit kos, is dit gewoonlik 'n reuse hap uit jou sak.  Hier is idees van hoe om dit self goedkoop te kan maak:

Geen nessie in die natuur is so perfek met net een soort materiaal gemaak nie.  Nee hulle is juis perfek omdat hulle somtyds sommer met twee of meer verskillende goedjies gemaak is:

1)  Gebruik wol om jou nessie te vorm.  Veral as jy dalk ietsie gebrei het, maar van plan verander het, en jy trek dan daardie stuk breiwerk uit - dit vorm die oulikste riffels net reg vir 'n nessie se maak.
2)  Sit gekleurde papier deur 'n "shredder" by die werk.  Die lang repe werk baie goed.
3)  Kyk in jou tuin vir palmtakke of piesangblare - sommige soorte trek maklik in lang repe wat jy dan kan gebruik om growwe nessies mee te vleg.  As jy verkies kan jy dit dan verder versier of snoesig maak met stukkies wol en watte en materiaal.  Dit sal nogal eg lyk, want dis presies wat die voëltjies in die natuur ook gebruik.