Monday, 3 December 2012

Wenke vir gaste (kuiermense)

Almal wonder en praat en gee altyd raad oor wat die gasvrou moet doen vir haar gaste.  Daar is wonderlike idees oor hoe die gasvrou haar gaste welkom kan laat voel.  Hoe sy hul kuiertjie heerlik kan maak….. 
Maar is daar nie dalk ook ‘n paar reëls of wenke vir die gaste nie? 

As jy hierdie vakansie ‘n gas in iemand se huis gaan wees, onthou hierdie 5 goue reëls sodat jou gasvrou / gasheer jou volgende keer weer sal nooi:

·         Moet NOOIT ooit jou nat bad handdoek of swemklere teen die kamer se kaste ophang nie.  Onthou “klam klere” maak merke teen hout meubels en kaste.  As daar nie plek is in die badkamer nie, vra jou gasvrou waar jy dit kan hang.

·         Wanneer jy die badkamer gebruik het, laat dit weer netjies.  (Belangrik – toilet sitplek moet TOE wees na gebruik.)   Was maar gou die bad uit of maak seker jy laat nie tandepasta merke in die wasbak nie.
·         Bied aan om te help met etes se voorbereiding, maar aanvaar ook as jou gasvrou dalk eerder alleen in die kombuis wil wees.  Jy kan altyd die skoonmaak agterna oorneem en haar dan kansie gee om bietjie te rus.  (Glo my sy sal dit dalk baie waardeer.)
·         As jul kuier in die sitkamer of tv kamer – dra jou eie glase / bekers en bakkies kombuis toe na gebruik.  Moet dit nie daar los en dan gaan slaap nie.
·         Moenie kinders toelaat om op jou gasvrou se meubels of beddens te spring nie.  Al is dit iets wat heel onskuldig klink, mag ‘n gasvrou aanstoot neem en diep ongelukkig voel sonder om iets te sê. 

Ag in kort, is die belangrikste 2 reëls vir gaste sekerlik net die volgende:
1)       Respekteer ander se eiendom
2)       Pas in by jou gasvrou en gasheer se manier van doen (nie anders om nie), en respekteer ook mekaar se gevoelens.