Kersoggend gaan ons as familie kerk toe. Daarna kom ons bymekaar (die wat nog naby is) en is dankbaar dat ons nog die geleentheid het om saam om 'n tafel te kan sit en gesels. Ons maak 'n doodgewone Sondag se kos (skaapboud, rys, braai aartappeltjies, pampoen, ens...) en dan natuurlik kom daar tong en Gammon by wat vir my tradisioneel kersfees is. Dis 'n heerlike ete en elkeen dra 'n gereg by wat dit maklik maak op die gasvrou. Die belangrikheid van Kersfees gaan nooit ongesiens verby nie en kinders word by die oopmaak van geskenke herinner hoekom en waarom ons geskenke uitruil. Hier is 'n heerlike Gammon resep met 'n glaseersel wat dit pragtig laat lyk op enige Kerstafel as jy hierdie Kersfees ook familie en/of vriende onthaal.
(Resep is ideaal vir iemand wat vir die eerste keer 'n gammon wil probeer maak.)
3 kg ontbeende Gammon
1 ½ L vars appel-, pynappel of lemoensap
2 wortels in growwe blokkies gesny
2 uie
Naeltjies
4 Lourierblare
Knoffel na smaak
3 stukke steranys (opsioneel)
12 peperkorrels
Glaseersel
50g donkerbruin suiker
60 ml Dijon mosterd
15 ml appelasyn
2 ml fyn wonderpeper (opsioneel)
1 ml fyn neutmuskaat
10 ml gemmer
Sit die ham in die oondroosterpan, met die vet kant na bo. Voeg sowat 1 ½ liter water of sap by saam met die speserye en groente. Bedek die pan met foelie (blink kant na onder). Bak by 160 grade vir 30 min. per 500 gram.
Skep 125 ml van die sap waarin die ham gekook het in ‘n kastrol om die glaseersel te maak. Voeg die res van die bestandele vir glaseersel by en roer oor matige hitte tot die suiker opgelos het. Stel die hitte laer en prut vir 2 minute.
Plaas ham in ‘n roosterpan en verwyder die tou wat rondom die ham is. Smeer nou die glaseersel sous bo-oor die ham. Gooi ‘n bietjie van die sap mengsel op die boom van die pan en bak vir 30 min..
Haal uit die oond en laat staan vir 10 min. voor jy dit sny.