Elke plant benodig kalsium vir sterk gesonde groei. Nou in stede van soek in die winkels na duur middels wat jou sal help om kalsium in die grond terug te sit, is hier ‘n makliker manier:
Eierdoppe. Jip wanneer jy weer ‘n heerlike ontbyt maak of daai koek bak vir die familie, bere die eierdoppe.
Ek gooi hulle sommer in ‘n bakkie en laat dit op die rak staan tot dit lekker droog is. Jy kan hulle in die oond droog, maar dit neem ekstra elektrisiteit.
Maak dit dan fyn. (‘n Maklike metode is om dit in ‘n plastiek sakkie te gooi en dan met ‘n koekroller fyn te maak.)
Nou daar is drie maniere om dit te gebruik:
1) ‘n Lekker fyn poeier kan maklik in die tuin gestrooi word om die grond weer te verryk. (Strooi rondom jou vrugtebome, potplante en rose en sommer lekker baie in die groentetuin. Groente en vrugte wat hou van ekstra kalsium is: druiwe, appels, aartappels, tamaties, cherries, blaarslaai, brokoli en wortels.)
2) ‘n Growwe poeier is ideaal om die slakke uit jou tuin te hou. Strooi die doppe rondom die plante waarvoor slakke lief is en / of rondom jou groentetuin. Slakke hou nie van die skerp rand van die doppe nie en sal weg bly.
3) Neem ‘n gieter en maak dit vol water. Gooi die eierdoppe sommer so rof weg in stukkies gebreek in die water en laat dit staan vir ‘n paar dae. (± 1 week) – hierna is hierdie “eierdop-tee” ‘n fantastiese voedingsmiddel vir jou potplante.