Friday 3 August 2012

Indiese lamskerrie





• 1 duimgroot stuk vars gemmer, geskil, fyngerasper
• 8 knoffelhuisies, fyngekap
• 5 ml gemaalde borrie
• 80 ml ongegeurde jogurt
• 5 ml swartpeperkorrels
• 1 kg lamsvleisblokkies (sowat 2,5 cm groot), uit die blad of boud gesny
• 5 ml heel naeltjies
• 15 ml groen kardemomsade
• 1 kaneelstokkie
• 30 ml koljandersaad
• 10 ml paprika
• 4 klein gedroogde brandrissies
• 6 gedroogde kerrieblare
• 15 ml olie
• 5 rooi uie, gekap
• 2 rooi soetrissies, gekap
• 4 rooi brandrissies, ontpit, gekap
• 2 blikke (elk 410 g) gekapte tamaties

1 Meng die gemmer en knoffel saam. Plaas dit in 'n mengbak wat groot genoeg is sodat die lamsvleisblokkies ook daarin sal kan pas. Voeg die borrie, jogurt en swartpeper by en meng saam. Plaas die lamsvleisblokkies hierin en roer deur totdat dit oraloor met die jogurt en speserye gemeng is. Bedek en laat staan oornag in die yskas om te marineer.
2 Voorverhit die oond. Verhit 'n oondvaste kastrol oor matige hitte en gooi die naeltjies, kardemom, kaneel, koljandersaad en paprika droog daarin. Rooster totdat die speserye hul geur afgee en effens donkerder word. Plaas die speserye in 'n vysel of koffiemeultjie en maak dit fyn saam met die gedroogde brandrissies en kerrieblare.
3 Gooi die olie in die kastrol en plaas dit terug op die plaat. Braai die gekapte uie, soetrissies en brandrissie tot sag. Voeg die gemaalde gebraaide speserye by en roerbraai vir sowat 5 minute. Voeg die tamaties, gemarineerde lamsvleisblokkies en sowat 300 ml water by en verhit. Voeg sowat 7,5 ml sout by en sit die deksel op. Plaas in die oond vir sowat 2 uur (170 °C). Haal dit uit die oond en proe of daar genoeg sout in is. Indien nie, geur. Jy kan nou ook nog jogurt byroer as dit te veel brand. Sit dit voor saam met naanbrood, basmatirys en sambals. Garneer met geroosterde klapperskaafsels of vars koljanderblare.