Monday 16 July 2012

Karringmelkbeskuit & Wit Anys beskuit

Hier is twee resepte van Tina Sauerman Harman - Karringmelkbeskuit en Wit anys beskuit - albei staatmakers:

Karringmelkbeskuit
Ek het in 2004 dié resep by Barbara Joubert, ons sustertydskrif Sarie se kosredakteur, gekry. Dis haar staatmaker-beskuitresep en is altyd 'n sukses.
2 kg bruismeel
10 ml sout
1 kg botter
700 g suiker
1 liter karringmelk
4 ekstra-groot eiers
Voorverhit die oond tot 180°C. Sif die meel en sout saam. Vryf die botter in tot dit lyk soos broodkrummels. Roer die suiker by. Klits die karringmelk en eier saam. Voeg by die meelmengsel en meng goed. Verdeel tussen vier goed gesmeerde broodpanne en bak vir 50-60 minute op die middelrak van jou oond tot 'n toetspen skoon uitkom as dit in die hoogste deel van die beskuit gesteek word. Keer uit en laat effens afkoel. Sny in stukke en droog uit teen 50°C. Bêre in 'n lugdigte houer. Lewer 12 dosyn beskuit.
Wit anysbeskuit
380 g botter
400 ml suiker
1 liter melk
4 eiers
2 kg bruismeel
3 ml kremetart
7 ml sout
20 - 30 ml anyssaad
Voorverhit die oond tot 180°C en smeer twee broodpanne goed. Smelt die botter, suiker en melk stadig saam tot die suiker gesmelt is en die mengsel net kook. Verwyder van die hitte en laat afkoel. Sodra louwarm, klits die eiers by die melkmengsel. Sif die meel, kremetart en sout saam in 'n mengbak en roer die anyssaad by. Meng goed en maak 'n holte in die middel. Roer die melkmengsel by en maak aan tot 'n sagte deeg. Laat staan vir minstens 10 minute. Verdeel tussen die broodpanne en bak vir ongeveer 1 uur tot die beskuit goudbruin en deurgaar is. Laat effens in die panne afkoel, keer uit en laat heeltemal afkoel. Breek of sny in stukke en droog uit teen sowat 50°C. Lewer ses dosyn beskuit.