Griekse Aartappels (warm)
As jy nou verveelt is met die ou resepte en jou gewone manier van aartappels gaar maak, probeer gerus hierdie een. Dis vinnig en maklik om te maak, smaak voortreflik en is ‘n puik manier om “slap-chips” te vervang op ‘n gesonde manier.
Chef Michael Smith (“Chef at home”) het een aand Griekse aartappels gemaak op tv en ek het die resep dadelik uit probeer. Dis nou beslis ‘n gunsteling in ons huis.
½ Koppie olyfolie
8 Eetlepels botter of margarien
6 Groot Aartappels met skil aan in blokkies gesny (bite size)
In ‘n groot braaipan, verhit die olyfolie en botter tot die botter gesmelt is en begin borreltjies maak. Voeg die aartappels by en braai tot goudbruin vir ± 15 tot 20 min. Draai hul gereeld sodat hulle egalig bruin word aan al die kante.
Toets met ‘n vurk om seker te maak hulle is gaar.
Intussen - berei die sous voor:
1 Knoffelhuisie baie fyn gekap
2 Suurlemoene se sap en ‘n klein bietjie van die fyn gerasperde skil
½ Koppie olyfolie
1 Eetlepel Origanum
Sout en peper na smaak
Meng bogenoemde 5 bestandele goed saam.
Plaas die gebraaide aartappels in ‘n mengbak, gooi die sous bo-oor en meng sodat al die aartappels met die sous kontak gemaak het. Bedien warm.
(NS: Chef Michael het spinasie by die aartappeltjies gesit nadat dit gaar was, maar ons eet hulle nog lank voor daar kans is vir spinasie by sit…..)