Maria van der Merwe se Fluweel Poeding
Bestanddele: ½ k suiker
1 k koekmeel
½ t sout
4 eiers, geskei
4 k warm melk
2 t vanieljegeursel
4 E botter
2 E gesmelte appelkooskonfyt
4 E strooisuiker
Metode: Meng die suiker, koekmeel en sout.
Klits die eiergele, voeg melk, vanielje en botter by en roer in die meelmengsel.
Giet in ‘n dikboomkastrol, verhit en roer gedurig tot dit gaar is.
Giet uit in ‘n gesmeerde oondskottel.
Bak vir 20 minute teen 180ºC.
Smeer die appelkooskonfyt oor die vlamengsel.
Klits die eierwitte skuimerig en voeg die strooisuiker lepelsgewys by.
Klits tot styf en skep oor die konfytlaag.
Bak vir 10 minute tot die skuimpie goudbruin en gaar is. Dis genoeg vir 6 mense.
Dine se notas:
Fluweelpoeding is ‘n gebakte melkpap met ‘n skeppie appelkooskonfyt en ‘n skuimpie van geklopte eierwit bo-op.
Jy moet die melkpap aanmekaar klop terwyl dit kook, om te verhoed dat dit klonte vorm.
Dit kan in een skottel gebak word, of in kleiner opdienbakkies.
Fluweelpoeding kry sy naam weens die sagte tekstuur onder daardie skuimpie.
Die poeding bak in ‘n vinnige oond, net vir ‘n paar minute, dan is die skuimpies, net soos die pasteideeg, ligbruin van kleur.