Wednesday 4 April 2012

Sjokolade-paaseiers























Hier's 'n maklike manier om sjokolade-eiers te maak - en die kinders kan ook help. 
1 Breek 100 g donker-, melk- of witsjokolade in stukkies of gebruik sjokoladeskywe (te kry by bakwinkels). Sit dit in 'n glasbak en plaas die bak oor 'n kastrol met water wat liggies prut. Die bak moenie aan die water raak nie. Laat staan dit vir 'n paar minute tot die sjokolade sag is.














2 Roer die sjokolade en laat dit verder smelt. Roer af en toe totdat die sjokolade gesmelt het en egalig is. Oppas dat daar nie stoom of water daarin kom nie. Dit sal die sjokolade laat stol of dik word.














3 Gebruik 'n skoon, droë kwas en verf 'n eweredige laag sjokolade aan die binnekant van twee hol Paaseier-vorms aan. Sit dit in die yskas om te stol, maar nie vir langer as drie minute nie. Verf nog drie lae aan, maar wag elke keer tot die vorige laag eers heeltemal gestol het.














4 Maak die sjokolade versigtig los van die vorms en haal die sjokolade-eier versigtig uit. Probeer om nie te veel aan die buitekant van die eier te vat nie. Dit sal vingermerke laat.














5 Maak 'n metaal-paletmes in kookwater warm en droog dit af. Hou dit teen die rand van die een helfte sodat die sjokolade effens smelt. Gebruik 'n lap wat nie wolletjies afgee nie om die eiers vas te hou, anders sal die hitte van jou hand dit laat smelt. Herhaal met die ander helfte.














6 As jy wil, kan jy nou 'n klein speeldingetjie (dit moenie swaar wees nie), lekker of briefie in die eier sit. Hou dan die twee helftes vir 'n paar sekondes teen mekaar om dit te seël. Draai dit in gekleurde foelie of sellofaan toe en versier met lint.