Friday 13 January 2012

Potjie vol geskenke - aan my - van my ...

Vir baie van ons is die jaar somtyds bietjie lank.  Halfpad verloor ons die lus vir die nuwe jaar wat ons in Januarie dalk gehad het, of daar is net niks opwindend wat gebeur wat jou ‘n positiewe uitkyk kan gee nie.  Dinge kan somtyds “depressing” raak as jy net heeldag jaag en werk en jaag en werk….
In Januarie maak vir jou so ‘n glasfles en sit hom erens in jou kombuis of waar ook al.  Kom ons noem die fles ons “Inspirasie fles”.

Die idee is om nou 12 of 24 (jou keuse) notatjies binne-in die fles te plaas.  Die notatjies moet goed wees wat jou sal inspireer of laat goed voel.
Bv.: 
Nota 1:  Geniet ‘n Magnum roomys onder die koelteboom.
Nota 2:  Koop ‘n bossie blomme vir die sitkamer.
Nota 3:  Gaan drink tee saam met ‘n vriendin by gunsteling koffieshop.
Nota 4:  Gee manlief en die kinders ‘n stywe drukkie en sê dankie…
Nota 5:  Tap ‘n groot borrelbad en skink die vonkelwyn saam met sagte musiek vir “me time”.

Reg.  Afhangende of jy nou 12 of 24 notatjies in jou fles geplaas het, kan jy dus een keer of twee keer in ‘n maand ‘n notatjie trek.  Die verrassing is dan ‘n klein bederfie vir jouself en so maak jy seker dat jy tyd in ruim vir positiewe dinge in jou lewe wat jou weer bietjie moed gee en spesiaal laat voel.
Hier teen die middel van die jaar mag mens dalk dit nogal nodig kry…

Hierdie idee kan ook gebruik word as jy vir jou lewensmaat ietsie spesiaals wil doen.  Elkeen het ‘n fles, en die ander kan daaruit ‘n notatjie trek as inspirasie vir ‘n spesiale gunsie of bederfie. 

As jy verkies om nie geld uit te gee nie, maak jou fles vol inspirerende boodskappies en trek dan elke dag vir jou ‘n inspirasie boodskappie vir die dag.