Tuesday 6 December 2011

Kersversierings - Goedkoop of Geen geld idees

As jou huis nognie die kersfees vrolikheid uitblaker nie en jy wil graag iets doen, maar fondse is skraps, het ons vir julle 'n paar oulike idees wat jou amper geen geld uit die sak sal jaag nie.

Kerstyd is 'n tyd waarin jy jou kindertyd drome mag laat herleef, so droom 'n bietjie en gebruik jou verbeelding.
  1. Neem 'n Teddiebeer van die kinders of jou eie een wat al jare weggesteek lê in die kas en trek vir hom 'n rooi truitjie aan (dalk een wat jy self gebrei het) of sit sommer net 'n rooi kersfees hoed op sy kop en/of rooi sokkies.  Sit hom dan naby die kersboom op 'n stoel (dalk met die geskenke rondom hom).  Dit kos jou geen geld nie en lyk sommer net te oulik vir woorde.
  2. Groen takkies uit jou tuin maak 'n kostelose tafel versiering.  As jy sade van bome in die straat kan bymekaar maak, kan jy hulle verf of spuitverf en ook gebruik as versierings vir die tafel en boom.
  3. Rooi en groen appels maak pragtige versierings.  Stapel hulle op mekaar bo-op 'n koekstaander en druk hier en daar 'n kersversiering wat jy nie op die boom gebruik nie tussen-in.  (Agterna gebruik jy die appels weer in 'n vrugteslaai, so dis geen vermorsing nie.)
  4. 'n Ou vergete treinstel in die kas, kan onder die kersboom gesit word.  Maak klein boksies toe met kerspapier en sit hul op die trein as versiering, sodat dit lyk asof die "Noordpool trein-diens" die geskenke afgelewer het.  (Jy kan leë spesery boksies, vuurhoutjie boksies of letterlik enige klein boksie gebruik.)
  5. Laastens - Jy kan enige iets wat in die kersfees kleure is gebruik as versiering.  (Bv.  'n Rooi glasbak van die kombuis, kan gebruik word om lekkergoed in te sit as koffietafel versiering.  'n Ou mandjie propvol kersboom bal versierings, lyk pragtig in kerslig.  Of 'n kussing wat 'n nuwe gebreide oortreksel kry in kersfees kleure, maak somtyds 'n hele vertrek anders lyk.
Geniet die kerstyd en droom weer soos 'n kind.  Hoekom dan nie..........?