Thursday 6 October 2011

Versiering van Koekies


















Daar is verskillende maniere om jou koekies te versier:

1. Eierglasuring
Meng 1 eiergeel met 5 ml water. Roer met 'n vurk om te meng.

Verdeel die mengsel tussen verskillende klein bakkies.

Nou kan jy by elke bakkie 'n ander kleur voedselkleursel gooi.

Verf met 'n sagte kwassie die koekies voordat jy hulle in die oond sit.

Wanneer die koekies uit die oond kom en afgekoel het, kan jy hulle ook met van die kleurvolle versiersuiker versier.

2. Vensterkoekies

Om kleurvolle venstertjies in jou koekies te maak, doen die volgende:
Druk koekies met 'n groot drukker uit, soos 'n groot sirkel of 'n groot ster. Druk dan met 'n kleiner sterdrukker, of ander drukker, 'n gat in die middel van die koekies.

Sit harde suiglekkers in 'n plastieksakkie en slaan hulle met 'n koekroller stukkend. Maak nou die gaatjie in die koekie met die stukkies vol. Jy kan al die kleure meng of die kleure apart hou.

Bak dieselfde as die gewone koekies. Onthou om 'n gaatjie in te druk sodat jy garing kan deurryg om die koekies aan die boom op te hang.

3. Versier koekies nadat dit gebak is
Meng 50 ml versiersuiker met 5 ml melk. As dit nie loperig genoeg is nie, kan jy nog melk bygooi. Pasop net dat jy nie te veel bygooi nie. Kleur nou jou versiersuiker in enige kleur wat jy wil. As jy die versiersuiker tussen klein bakkies verdeel, kan jy sommer baie verskillende kleure maak.

Wanneer jou koekies koud is kan jy hulle met die versiersuiker na hartelus versier.


* Het jy vergeet om gaatjies in te druk voor jy die koekies gebak het?
Moenie bekommerd wees nie – druk net versigtig met 'n tandestokkie 'n gaatjie in elke koekie.