Wednesday, 12 October 2011

Frangipani


Frangipani is sekerlik een van die bome in ‘n tuin wat die mees geurigste blomme dra.  Somertyd is hul oortrek met pienk of wit en geel blommetjies en laat mens behoorlik dink aan ‘n tropiese paradys.  (Verkrygbaar in baie kleure.)
As jy graag een in jou tuin wil sal jy dit dalk moeilik vind om by ‘n kwekery ‘n plantjie te kry, maar daar is ‘n maklike uitweg. 
As jy iemand ken wat so ‘n boompie in die tuin het, kan jy eenvoudig ‘n stukkie vra en dit in die grond druk.  Hulle groei baie maklik en jy kan ‘n steggie neem van omtrent enige deel van die plant en hy sal groei.  Oppas net vir die melkerige wit sap van die plant, want dit kan nogal ‘n vel irritasie veroorsaak.  Frangipani hou van volson en floreer op ekstra voeding.  (Die plant verloor in die winter al sy blare, so moenie dink hy is aan die doodgaan as al die blare verkleur en afval nie.  Hierdie kenmerk maak hom dus ideaal vir ‘n area wat in die wintermaande son benodig en in die somer skaduwee.)
Geen wilde wortelstelsels wat mure in gevaar kan stel nie en raak ± 5-6 m hoog.  (Jy kan hom snoei en in toom hou op die hoogte wat jy wil .)