Wednesday 21 September 2011

Hou 'n piekniek

Wat om alles saam te neem...

Die mandjie:  Enige mandjie sal werk. 
Dit hoef nie ‘n duur gekoopte mandjie te wees wat aan die bokant toemaak nie.  ‘n Oop mandjie werk net so goed.  Jy kan altyd ‘n klein tafeldoek gebruik om bo-oor te gooi sodat die kos teen wind en son beskerm is.  Die beste idee is om ‘n “coolerbag” te gebruik vir die kos en dan die mandjie net te gebruik vir die borde en ander benodighede.  So verseker jy jou kos bly vars en heerlik al skyn die son hoe warm.

Onthou om die volgende in te pak:  Genoeg borde vir almal, vurke, glasies en servette en moenie die piekniek kombers vergeet nie, maar nog belangriker is natuurlik die sonroom.  As jy ‘n bottel wyn saamneem, onthou om ‘n bottel oopmaker in te pak.  Dis ook handig om ‘n klein snybord saam te neem en ‘n lekker skerp mes.  Sit ‘n nat lappie of twee in ‘n plastiek toebroodjie sakkie.  Dis altyd welkom na so ‘n heerlike ete.

Warm of koud:  ‘n Belangrike wenk is om die warm goed appart te hou van die koue goed.  Moet nooit die twee meng nie. 

Kos:  Toebroodjies met vulsels (sny dit in driehoekies vir maklik raakvat), klein frikkadelle, gekookte eiers, koue vleis, worsies, aartappel slaai in individuele houertjies, koeldrank en/of sap, vrugte en yoghurt of letterlik enigiets waarvan die gesin hou.