Thursday 22 September 2011

Begin jou eie groentetuin

Somtyds kan al die groot woorde wat tuin kenners gebruik nogal oorweldigend wees.  Veral as jy al die moets en moenies hoor, en dan besluit ons sommer, nee wat "ek kan nie".   By In en om die huis, kan ons vir julle sê "jy kan", want ons hou die raad so maklik dat enige iemand dit kan volg.  Ons gee raad wat ons uit ondervinding geleer het en / of raad wat ons weet wat werk, maar ons hou dit eenvoudig.

As jy hierdie somer graag 'n kombuistuintjie wil hê is hierdie 'n beginpunt vir jou:

1)  Kies 'n stukkie grond waar die honde nie by kan uitkom nie en wat in volson is.  Onthou hoe meer son hoe beter.
2)  Jy kan ook 'n pot, 'n leë emmer of selfs 'n ou bababadjie gebruik om in te plant as jy nie genoeg tuin spasie het nie.
3)  Die grond moet verkieslik gelyk wees (indien moontlik), want so kry al die plantjies ewe veel water.
4)  Maak die grond skoon van onkruid en dan besoek jy jou naaste kwekery.  (Oeee, dis die lekkerste deel.  Shopping.)
5)  Koop saailinge (klein plantjies) van groente waarvan jul hou.  Die kwekery sal in voorraad hê presies die soort groente wat nou goed groei en wat werk in jou area, so jy hoef nie eens veel daaroor te wonder nie.
6)  Koop 'n paar Marigold blomplantjies en plant hulle sommer so oral oor in jou tuintjie.  Hulle lyk vrolik en hou die goggas weg.
7)  Kry ook 'n paar pietersielie of ander kruieplantjies volgens jou smaak en wat jy sal gebruik.
8)  Plant die hele klomp in jou tuin.  Jy kan die groente soort by soort hou en die kruie sommer so oor en weer tussen in plant.
9)  Gee genoeg en gereeld water.  Aan die begin definitief een keer per dag of elke tweede dag (afhangende van hoe nat jou grond is.)
10)  Kry 'n botteltjie Seagrow en spuit die groente gereeld volgens die brosure daarmee om dit mooi te laat groei.

Nou daar het jy dit in 10 reëltjies.  Dis maklik. 

Ja mense gaan vir jou sê sekere plante groei beter as hul by sekere ander plante geplant word, maar weet jy as jy 'n beginner tuinier is, hou dit vir jouself maklik.  Jy gaan buitendien mooi sien wat groei goed in jou tuin en dan sal jy weet vir volgende jaar.  Hou net in gedagte dat as jy 'n klein spasie het, moet jy nie plantjies koop soos pampoen wat sommer 'n groot deel sal toe rank nie.  Hou dan eerder by plantjies soos tamatie, uie, greenpepper en mielies.  As jy twyfel vra die kwekery, hulle sal jou ook mooi kan raad gee of kom maak 'n draai op ons facebook blad "In en om die huis".  Ons probeer graag help waar ons kan.

Nog ietsie wat ons met jul deel:  Jy kan selfs tamatiesaadjies uit die tamaties haal wat jy koop en dit in die grond gooi.  Ek doen dit elke jaar, en met genoeg water en sonlig, sal amper enige plantjie groei.  So probeer.  Dis regtig nie so moeilik en so wetenskaplik as wat almal voorgee nie.  Voorspoed met jou eerste kombuis-tuintjie.