Monday 8 August 2011

Spyskaart en Resepte Week 13

MAANDAG                Spek Rolletjies
DINSDAG                  Ontbyt “Muffins” spesiaal vir vrouedag
WOENSDAG             Boelie-Beef Gereg
DONDERDAG            Tuna Royal
VRYDAG                   Groente-Hutspot

MAANDAG:              SPEKROLLETJIES

500g witbroodmeel
2ml suiker
1 pakkie kitsgis
50g botter
250g swoerdlose streepspek, gekap en bros gebraai
1 groot eier, liggies geklits

Meng die droë bestanddele in ‘n groot mengbak, vyf die botter in en voeg dan die spekvleis by.  Gooi genoeg warm water by om ‘n stywe deeg te vorm.  Knie vir omtrent 10 minute tot glad en elasties.  Vorm klein bolletjies en pak dit op ‘n bakplaat.  Los op ‘n warm plek en laat rys tot dubbel die volume.  Verf met geklitste eier en bak in voorverhitte oond vir 15 – 20 minute tot goudbruin en deurgaar.  Bedien saam met maas, salami, ham of ander vleisblokkies en ‘n heerlike glasie wyn.

DINSDAG:    ONTBYT “MUFFINS”

• 3 eetl botter, gesmelt
• 8 snye wit of bruin brood
• 6 stukkies bacon
• 6 groot eiers
• Sout en peper

Voorverhit die oond na 190°C.
Smeer 6 holtes in ‘n standard grote muffin pan met botter of spuit met kleefwerende sproei.
Gebruik ‘n koekroller om die brood effens plat te rol.
Gebruik ‘n koekiedrukker of bakkie van 11cm om sirkels uit die brood te druk.
Sny elke sirkel in die helfte en pas in die gesmeerde holtes.
Maak seker die onder kante oorvleuel en dat die rande tot heel bo by die rand van die pannetjie kom. Gebruik ekstra stukkies brood om enige gate of skeurtjies reg te maak.
Borsel gesmelte botter in die binnekant van die brood bakkies.
Braai die bacon in ‘n pan tot amper bros. (Dit sal in die oond verder braai).
Plaas een stukkie in elke holte.
Breek een eier bo-oor elke stukkie bacon. Geur met sout en peper.
Bak tot die wit gestol is, ± 20 – 25 minute.
Gebruik ‘n klein messie om die kante los te maak en lig uit die pannetjie.
Bedien dadelik.

WOENSDAG:           BOELIE-BEEF GEREG

1 blik boelie-beef, gevlok met ‘n vurk
1 ui, fyn gekap
1 blik tamatie en uie smoor
3 eiers

Braai gekapte ui in olyfolie tot bruin.  Voeg boelie beef by.  Braai liggies saam met ui.  Voeg tamatiesmoor by.  Voeg rou eiers by, soos roereier.  Laat eier stol terwyl jy meng met beefmengsel.  Bedien saam met roosterbrood of kapokaartappels.

DONDERDAG:        TUNA ROYAL

1 blik tune (in water en nie olie nie)
1 klein blikkie sampioene
1 groen rissie
1 ui
2 koppies melk
1 eetl maizena
Worcestersous
Tamatiesous
Sout en peper

Kap ui en groen rissie en braai in botter.  Maak maizena aan met melk, gooi by res van melk.  Voeg by rissie en ui.  Voeg worcestersous, tamatiesous, sout en peper by na smaak.  Dreineer blikkie gekapte sampioene en blikkie tuna en voeg by.  Kook stadig saam tot gaar.  Bedien op rys met blaarslaai en tamatie.  Gebruik meer mel / smpioensop om meer te maak.  Lewer ongeveer 4 / 5 porsies.  Gebruik 1 koppie rys vir 4 / 5 mense.

VRYDAG:      GROENTE-HUTSPOT

15ml olyfolie
2 uie, gekap
450g wortels, gekap
3 murgpampoentjies, in ringe gesny
1 raap, gekap
450g aartappels, gekap
1 x 410g blik lensiesop
1 x 410g blik groentesop
1 x 410 g blik heel tamaties, gekap
1 x 410g blik nierboontjies, gedreineer
Kwart koolkop, gerasper
250g broccoli, in blommetjies gebreek

Verhit olie, braai uie, wortels, murgpampoentjies, raap en aartappels vir paar minute daarin tot uie sag is.  Voeg sop en tamaties met hul vloeistof by en laat prut vir sowat 20 minute.  Roer boontjies en groen groentes by en laat prut vir nog 10 minute,  Dien warm op saam met rys.