Wednesday 3 August 2011

Spoelklippies / Rivierklippies - nuttige idees

Gladde klippies (skoongewas) soos hierdie op die foto kan gebruik word vir baie doeleindes.  Hier is ‘n paar oulike idees (bo en behalwe om jou tuinpaadjie daarmee te versier):
In die huis:
·         Gebruik hul as gewiggies sodat servette en papierborde nie wegwaai op ‘n buite onthaal tafel nie. 
·         Verf die naam van jou kruie daarop (bv. Roosmaryn) en plaas hul in jou kruietuin by elke plant of afdeling.  (Bv.  ‘n Klippie met die woord “Geelwortels” sal aandui waar jy die wortelsaadjies in jou tuin gesaai het.)
·         Gebruik hul as versiering tussen groen takkies en ander natuur elemente as tafelloper (centrepiece) vir ‘n partytjie / onthaal met die natuur as tema.
·         Verf jou gaste se name op ‘n klippie en gebruik dit as plekaanwysers.
In die tuin:
·         Plaas ‘n paar onder in die voëlbad in die tuin, om sitplek vir die voëltjies te maak.  (Voëltjies hou nie van ‘n bak wat te diep is nie.)
·         Plaas klippies rondom die fokus potplant op jou stoep om ‘n prentjie van eenvoud en styl te skep maar ook om water verdamping te help teen werk.
·          ‘n Paar van hierdie klippies kan ‘n reënwater-drein baie mooi kamofleer.  (Maak net gereeld seker blare en ander gemors verstop nie die openinge tussen-in nie.)
·         Gooi ‘n paar klippies (kleiner soort) onder in die opvangbak van potplante op die stoep, om seker te maak hulle staan nie met nat voete heeldag in die water nie.