Wednesday 17 August 2011

Sonneblomme vir jou tuin

Reg my eerste sonneblom saadjies is in die grond.  Dalk ‘n bietjie te vroeg, maar almal is altyd eerste met hul pragtige sonneblomme, so hierdie jaar probeer ek ‘n maand vroeer.  Hou maar duime vas. 

As jy ook van hierdie pragtige hemelbesems wil groei in jou tuin, onthou om die klein plantjies te beskerm teen slakke (een van die grootste gogga-probleme, wat jou plantjies sommer so oornag sal laat verdwyn).  Daar is geen “fancy” werk aan die saai van sonneblomme nie.  Kry saadjies, maak ‘n voortjie in die grond en gooi die saadjies in ‘n ry.  (Of sommer rond en bont.) Gee water en beskerm teen slakke.  Dis maklik.

As jy voëltjies het waarvoor jy sonneblom saad koop, haal sommer 'n paar van die saadjies uit en gooi dit in die tuin.  (Ek doen dit elke jaar.)  Dalk word jy verras met pragtige goudgeel blomme hierdie somer.