Friday 12 August 2011

Naaldwerkkissie





















Kyk hierdie oulike kissie vir jou naaldwerk, het die inligting in 'n Idees Tydskrif gekry


In dié oorgetrekte kissie het elke ding sy plek - jy sal nie weer sukkel om 'n tolletjie gare op te spoor nie.

Jy benodig
• hout- of Supawood-kissie met 'n los deksel
• 2 bypassende soorte materiaal
• oorskietstukkie vilt
• oorskietstukkie watteersel
• aanplak-Velcro
• breë rek
• drukknopies

• koperknippie
• 2 klein koperskarniere
• dik karton
• wit handwerkgom
• kleeflint
• breë, plat kunskwas
• naaldwerkskêr, kartelskêr en gewone skêr
• handwerkmessie, snymat en metaalliniaal
• potlood en liniaal

So maak jy
1 Besluit watter stuk materiaal jy vir die buitekant van jou naaldwerkkissie wil gebruik. sit die kissie op die verkeerde kant van die materiaal neer, keer dit op sy sy om en trek 'n potloodstreep al langs die rand af. herhaal met die drie ander sye. Verbind die lyne met jou liniaal om 'n reghoek te vorm.
2 Knip die materiaal uit, maar laat reg rondom 'n paar sentimeter ekstra toe om die rande na die binnekant toe om te vou.
3 Sit die kissie in posisie neer op die materiaal met die een lang sy na jou toe. Vou die materiaal aan die lang sy verste van jou af om na die binnekant toe en hou dit in posisie met 'n stukkie kleeflint.
4 Druk van jou handwerkgom in 'n piering uit en verf dit aan die buitekant van die lang sy naaste aan jou. Vou die materiaal oor die rand en vryf dit mooi glad.
5 Wend 'n strook gom aan die binnerand aan en plak die omvou- gedeelte vas.
6 Herhaal die hele proses aan die ander lang sy.
7 Doen die twee kort sye net so, maar vou die oortollige materiaal op die hoeke netjies na binne en plak die verskillende lae materiaal aan mekaar vas soos jy werk. laat dit droog word.
8 Trek die deksel net so oor.
9 Binnekant Voer nou die binnekant van jou kissie uit met die tweede stuk materiaal. neem die kissie se binnemates en teken daarvolgens 'n nuwe bodem, twee lang sykante en twee kort sykante op die karton. Gebruik jou handwerkmessie, snymat en metaalliniaal en sny dit reg rondom sowat 2 mm kleiner uit sodat dit in die kissie sal pas as die stukke eers oorgetrek is.
10 sit die stuk karton vir die bodem op die verkeerde kant van die materiaal neer, trek die buitelyne na en knip dit uit, maar laat reg rondom 1 cm toe om die rande om te vou.
11 Verf gom op die karton, plak die materiaal in posisie vas en vryf dit mooi glad.
12 Keer die karton om en verf 'n strook gom van so 1 cm reg rondom die buiterand aan. Vou die materiaal om, knip kepies uit die hoeke sodat dit netjieser vou, plak dit vas en vryf dit glad.
13 Herhaal die hele proses met die twee lang en twee kort sykante.
14 Plak eers die bodemstuk, dan die twee lang sykantstukke en laastens die twee kort sykant- stukke in posisie vas aan die binnekant van die kissie.
15 Maak ook vir die deksel 'n nuwe bodem, maar moet nog nie die materiaal op die karton vasplak nie. Die sykante bedek jy net met strokies materiaal wat geknip is om presies daarop te pas, anders sal die deksel nie kan toemaak nie.
16 Maak nou vir die kissie afskortings deur nog stukkies dik karton net soos die sykantstukke oor te trek en dit in die kissie te pas. Die kante waar die karton nog sigbaar is, kan jy bedek met strokies materiaal wat geknip is om presies daarop te pas. Onthou, hoe knusser die stukkies pas, hoe stewiger sal die afkortings wees, so meet so akkuraat as moontlik. Maak die afskortings laer as die sykantstukke sodat daar plek is vir die garetolletjiehouer, speldekussing, ens. wat binne die deksel gaan kom.
17 Maak die garetolletjiehouer deur die stuk materiaal vir die deksel se bodem te neem en 'n paar sentimeter vanaf die bokant en inwaarts vanaf die een sykant 'n horisontale snit te maak waarin die rek pas. Steek die punt van die rek deur die snit in die materiaal na die agterkant toe en stik dit vas met 'n paar rye sigsag-stiksels. Vou die rek aan die voorkant van die materiaal in 'n lussie waarin die tolletjie knus sal pas en stik dit vas. Maak nog so 'n paar lussies, maak weer 'n snit in die materiaal ná die laaste een en stik die rek aan die agterkant vas met 'n paar rye sigsag-stiksels.
18 Maak 'n speldekussing deur twee ewe groot reghoeke uit materiaal en een uit watteersel te knip. Stik dan die materiaalreghoeke met die watteerselreghoek in die middel met 'n bostiksel aan mekaar vas. Maak dit met die aanplak-Velcro aan die materiaal vir die deksel se bodem vas sodat jy dit maklik kan afhaal wanneer jy werk. Maak ook 'n spesiale bêreplek vir jou naalde deur 'n stukkie vilt met drukknopies aan die materiaal vas te werk.
19 Trek die stuk karton vir die deksel se bodem met die materiaal oor, plak al die dele in posisie vas en skroef die koperskarniere en -knippie in om af te rond.