Wednesday 10 August 2011

Ken jou sampioene

Daar's 'n sampioen vir elke smaak en gaarmaakmetode.

Portabello-sampioene het 'n neutbruin kleur en vlesige tekstuur, en is baie geurig. Dié groot sampioene staan ook bekend as "die vegetariër se vleis". Gebruik dit in roerbraai-geregte óf bedek dit met spek, tamatie en fetakaas en oondbraai dit heel.













Oestersampioene is baie delikaat en moenie lank gaargemaak word nie. Dis seker een van die mooiste soorte met byna dieselfde kleur as knopiesampioene. Oestersampioene kan in pasta gebruik word asook in ryk, romerige souse, sop en risotto.













Sjiïtake-sampioene, ook bekend as Chinese swart sampioene, is baie skaars en plaaslik net gedroog by Oosterse delikatessewinkels te kry. Dis baie geurig, maar moet lank geweek word. Die veselrige steeltjies moet uitgesny en weggegooi word.













Portabellini-sampioene lyk soos wit knopiesampioene, maar het 'n ligbruin kleur, baie ferm tekstuur en dieper neutagtige smaak. Dit kan rou of gaar in enige sort gereg - van slaaie en souse tot bredies, risotto en roerbraai - gebruik word.














Knopiesampioene (ook beskikbaar in dwerggrootte) is waarskynlik die bekendste soort in Suid-Afrika. Omdat die grootte wissel en die geur matig en die tekstuur fyn is, kan dit heel en gesny in verskeie geregte gebruik word: van slaai, antipasto-borde en sosatiestokkies tot bredies. Dis ook ewe lekker rou of gaar.













Porcini-sampioene is meesal gedroog beskikbaar, maar uitgesoekte delikatesses verkoop dit sekere tye van die jaar ook vars. Dit het 'n baie sterk smaak wat byna enige gereg sal komplementeer. Gedroogde porcini's moet vir 'n paar minute in warm water geweek word voordat jy dit in pasta- en aartappelgeregte of sop gebruik. Moenie die water weggooi waarin die sampioene geweek het nie - dis propvol geur en kan waar moontlik in die plek van kraanwater gebruik word in sous, sop, bredie of risotto.














Wenke:
Koop altyd sampioene wat ferm voel en nie gekneus is nie.

Bêre sampioene altyd in die yskas, verkieslik in 'n kardoes. As jy dit in 'n lugdigte houer bêre, word die kondensasieproses versnel en die sampioene sal gouer bederf.

Moet nooit sampioene was nie - dit sal waterig raak omdat dit nes sponse water absorbeer. Vee dit net met 'n klam lap of kombuispapier af.

Moet nooit sampioene prober afskil nie - al die voedingswaarde lê in die skil.