Thursday 28 July 2011

Vol Draadwerk





















Maak ‘n hartvormige krans met ‘n draadhanger en ‘n paar klimoplote.

Begin met 'n draadhanger. Buig die hanger om 'n hartjie te vorm, met die haak na bo as jy dit iewers wil hang. Of, as jy verkies, buig die haak na binne en knip dit af. Vra iemand met sterk hande om jou te help.

 
Soek nou 'n welige klimop - jy het 'n hele klompie lang lote nodig en hoe dikker hoe beter.

Stroop nou al die blare van die lote af.
 
Begin nou om die gestroopte lote om die gebuigde draadhartjie te draai. Gebruik 'n klein skerpbektangetjie en draai 'n stukkie dun draad om die punt van die loot om dit op sy plek te hou. Draai nou die loot om en om die hartjie tot dit "op" is.

 
Druk die punt van die takkie onder een van die omgedraaide stukke in om dit in posisie te hou of gebruik weer 'n stukkie dun draad. Begin nou weer met 'n nuwe loot en draai dit in die teenoorgestelde rigting om.

 
So hou jy nou aan tot die hartjie vir jou dik genoeg is. Dikker lote maak 'n stewiger hart.