Thursday 28 July 2011

Gebreide kussingoortreksels






















Dié kussings sal 'n warm, huislike atmosfeer skep en is vining en maklik om te brei.
Let wel
Daar is twee variasies vir dié maklike kussingoortreksel. Een word gemaak van 'n kombinasie van gebreide vierkante en die ander een van reghoeke (voorbeeld van foto).
Grootte
45 x 45 cm
Jy benodig
Vir een kussingoortreksel:
l 5 x 50 g-bolle Elle Tweed Aran
l 5,5 mm-breipenne
l 45 x 45 cm-binnekussing
Kies die natuurlike kleure uit dié reeks breidrade.
Creamicrop, Caramelli, Antique en Country Freckles kan vir dié kussings gebruik word. 'n Teenstellende kleur vlekkie is ingeweef by die breidraad wat 'n sagte tekstuur het.
Spanning
15 ste en 21 rye = 10 cm oor ks met 5,5 mm-breipenne.
Reghoeke
Voorkant
(Maak 3 stroke)
Stel 23 ste op met 5,5 mm-penne.
Beg met 'n r ry en brei in ks tot die strook 45 cm van die begin is, eindig met 'n VK-ry.
Heg af.
Agterkant
(Maak 2 stroke)
Stel 72 ste op met 5,5 mm-penne.
Brei 5 cm in rek (dit sal 'n stewige, plat rand vorm).
Brei in ks tot werk 30 cm van die beg is, eindig met 'n aw ry.
Brei 4 rye in rek.
Heg af.
Afwerking
Blok al die stukke volgens die aanwysings op die breidraad-etiket. Jy sal sien dat die stroke vir die voorkant glad aan die regte kant en getekstureerd aan die verkeerde kant is. Lê die drie panele vir die voorkant langs mekaar neer, die eerste en derde met die verkeerde kant na bo en die middelste een met die regte kant na bo. Werk die panele met netjiese klein agterstekies aan mekaar sodat die naat aan die regte kant van die werk is.
Sit die twee stukke vir die agterkant so neer dat die rande in reksteek oorvleuel en die agterkant net so groot soos die voorkant is. Dié oorvleuelde rande vorm die opening vir die binnekussing. Stik die agterkantdele aan mekaar vas waar dit by die syrande oorvleuel. Werk nou die voor- en agterkantdele aan mekaar vas met die naat aan die regte kant van die werk. Steek die binnekussing deur die opening by middelagter in.
Vierkante
Voorkant
(Maak 4)
Stel 35 ste op met 5,5 mm-penne.
Beg met 'n r ry en brei in ks tot werk 23 cm van die beg is, eindig met 'n VK-ry.
Heg af.
Agterkant
Brei net soos vir die ander laslapkussing aangegee is.
Afwerking
Maak soos by die ander laslapkussing, maar werk nou die vier vierkante aan mekaar om die voorkant van die kussingoortreksel te vorm. Sit 'n stuk met die verkeerde kant na bo langs 'n stuk met die regte kant na bo neer en werk dit aan mekaar sodat die naat aan die regte kant van die werk is. Doen dieselfde met die ander twee stukke. Werk nou die twee stukke aan mekaar en sorg dat dieselfde tekstuur nie langs mekaar is nie. Voltooi soos vir die ander laslapkussing aangegee is.
Wenk As die breidraad te dik is om mee vas te werk en die naat te bonkig lyk, gebruik 'n dunner breidraad in dieselfde kleur.
Afkortings.
Aw aweregs
beg begin
ks koussteek (1 ry r, 1 ry aw)
r regs
rek reksteek (r elke ry)
st (e) steek (steke)
VK verkeerde kant
Patroon uit Idees Tydskrif