Friday 15 July 2011

Rosé-geposjeerde pere-pavlova























Resep van Lienkie Erasmus - maklike pavlova-resep, maar maak slegs twee meringue-sirkels.


(2 porsies)
  • 15 ml mielieblom
  • 1 bottel rosé-wyn
  • 50 g (60 ml) suiker
  • 1 heel kaneelstok
  • skil van 1 lemoen
  • skil van 1 suurlemoen
  • 3 - 4 pere
  • 250 ml room, styfgeklop
Meng die mielieblom met 30 ml van die rosé. Hou eenkant. Verhit die res van die rosé saam met die suiker, kaneelstok, lemoen- en suurlemoenskil in ’n kastrol. Prut tot die suiker opgelos het. Skil die pere, maar hou die stingels aan. Plaas die pere in die pruttende stroop. (Jy kan eers twee pere halveer sodat hulle mooi pienk binne is. Die heel pere word nie dwarsdeur pienk nie.) Bedek en prut vir 25 minute. Keer die pere nou en dan om. Haal dan versigtig uit. Dreineer die stroop om die skil en kaneel te verwyder. Gooi die skoon stroop terug in die kastrol en voeg die mielieblom-mengsel by. Prut oor ’n lae temperatuur tot die sous verdik. Laat afkoel. Skep die geklopte room bo-op die pavlova en rangskik die pere op die room. Besprinkel met van die stroop.

RESEP VIR MERINGUE (Resep kom uit ‘n Sarie)
  • 4 eierwitte
  • 100 g (120 ml) strooisuiker
  • 10 ml wit asyn
  • 5 ml vanieljegeursel
Verhit oond tot 110 ˚C. Klits eierwitte in ’n groot glasbak tot sagte punte vorm. Terwyl jy klits, voeg strooisuiker stadig by. Hou aan klits tot styf en blink. Voeg asyn en vanieljegeursel by. Meng goed. Skep meringue (maak jou nessies vir die pere) op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Bak ongeveer  25 – 30 minute of tot heeltemal droog en bros. Laat afkoel.