Wednesday 13 July 2011

Maalvleis en bierpastei met deegwiele














Jy benodig (vir 4 mense)

• 1 eetlepel olyfolie
• 250g knopiesampioene, middeldeur gesny
• 1 groen soetrissie, in blokkies gesny
• 500g gaar maalvleismengsel, ontdooi
• 150ml bier
• 2 teelepels Worcestershiresous
• 2 eetlepels Bistopoeier, opgelos in ’n bietjie kraanwater
• 1 rolletjie (400g) skilferkorsdeeg, ontdooi
• 1 koppie beleë cheddarkaas, gerasper
• 2 eetlepels Italiaanse pietersielie, gekap (plus 4 eetlepels ekstra vir garnering)
• 1 eetlepel tiemie, gekap
• 1 eier, geklits

 Voorverhit die oond tot 200°C. Verhit die olyfolie
in ’n pan en braai die sampioenhalwes en soetrissieblokkies tot sag.

Voeg die ontdooide gaar maalvleis by, plus die bier, Worcestershiresous en Bistopoeier. Verhit die mengsel tot kookpunt en draai dan die hitte laer sodat dit vir sowat 20 minute kan prut.

 Skep die maalvleismengsel in ’n  oondbak en laat dit heeltemal afkoel voordat jy die deeg daarop sit.

Rol die skilferkorsdeeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Strooi die kaas, 2 eetlepels pietersielie en tiemie oor en rol dit weer op.

Sny dit met ’n riffeltandmes in skywe van 1,5cm en rangskik die wiele op die afgekoelde vleis.

Verf die deeg met die eier waarby jy ’n  bietjie melk geklits het, want dit gee ’n  mooi goudbruin kleur. Bak die pastei vir 20 minute of totdat die deeg uitgerys en gaar is.