Friday 3 June 2011

Roline se Plaatkoekies vir die klein Monstertjies

















•1 kop meel
•2 teel bakpoeier
•1 eier
•1 eetl kookolie
•½ teel sout
•2½ eetl strooisuiker
•½ kop melk
•1 teel vanielja

1) Klits al die nat bestanddele goed saam.
2) Sif die droeë bestanddele by en meng goed deur.
3) As die beslag te dik is verdun met bietjie water.
4) Gooi bietjie olie in 'n swaarboom pan op 'n matige plaat.
5) Skep lepelsvol in die pan, bietjie uit mekaar.
6) As daar borrels en gaatjies bo-op vorm is hulle gereed om om te draai.
7) Bedien met 'n klontjie botter en stroop of heuning.
8) Lekker vir enige tyd van die dag.

*Om mooi ronde plaatkoekies te kry gebruik eier ringetjies (om eiers te braai. Crazy Store verkoop 2 in 'n pakkie vir onder R20-00.) Skep 'n groot eetlepel vol deeg in die ringetjie en verwyder versigtig net voor om draai.

* Vir 'n lekker variasie kan mens 'n ietsie spesiaal op die plaatkoekie sit net voor jy dit omdraai. Mens kan eintlik enigiets op sit. Die in die foto het stukkies sjokolade en rosyne in. Maar enigiets kan werk, blou bessies, smarties, astros, vars vrugte stukkies, gekapte grondbone.

* Vir 'n "savoury" plaatkoekie: verminder die suiker na 1 teel, los die vanielja uit en maak die sout 'n volle teel. Sit bietjie gerasperde kaas op voor jy dit omdraai. OF weense worsie ringetjies, bros gebraaide spek, gebraaide sampioene, gaar groente ens. Bedien dit dan saam met 'n bietjie tamatiesous.

* Vir eier allergie kan die eier met 'n eetl Maizena op gelos in bietjie water vervang word.

* Onthou die plaatkoekie word nie lank op die tweede kant gebraai nie, moet liewers nie rou vulsels gebruik nie.


ALLERGENE: NEUTE, HEUNING, EIER