Wednesday 1 June 2011

Kruietuin



















Deur die eeue heen het mense kruie gebruik om geur aan hul kos en huise te gee én kwale mee te behandel. Vandag kan jy jou skaars ’n geurige sop of bredie sonder die aromas van vars kruie voorstel. En hoewel die hele kruiespektrum deesdae vars en gedroog op die winkelrakke staan, kan niks by die varsgeplukte takkie of blaartjie uit jou eie tuin kers vashou nie.
’n Kruietuin by die agterdeur belowe jou maande se plesier – gereed vir die pluk. Die volgende kruie is meestal gehard teen winterkoue, somerhitte en die hitte van elke pot wat hulle met hul geur kom betower.
Kerrieblaarboom,  Lourier,  Marjolein,  Origanum,  Roosmalva,  Roosmaryn,  Salie,  Seldery, Sitroengras,  Tiemie


Gesonde kruie

Elkeen kan kruie plant, want jy het nie eens ’n klein tuin nodig nie – kry net ’n houer, enige houer, maak dit vol grond en kweek jou kruie. Binne óf buite.

LIGGING Kruie hou van heeldag of minstens halfdag son.  Plant koskruie naby die kombuis, sodat dit byderhand is vir die plukslag.

GRONDSAMESTELLING Die meeste kruie hou nie van te veel water rondom hul wortels nie. Voeg baie kompos by om die grond ligter te maak en ’n ryk groeimedium te verskaf.

WATER Plant kruie met ’n soortgelyke waterbehoefte saam om die natlei te vergemaklik.

VERMY TE VEEL VOEDING Kruie ontwikkel ’n beter geur as hulle effens swaar kry. Moenie die kruie te veel vertroetel nie.  Dis genoeg om twee keer per jaar kompos te gee.