Friday 7 September 2018

Grenadella Laagkoek



Geure Uit Die Vallei - Grenadella Laagkoek
Deesdae kry jy meestal net die pers grenadellas in die winkels , soek die wat verrumpeld is aangesien hulle die beste smaak het.
Maak 1 dubbel laagkoek
200gr. Botter, kamertemperatuur
300gr. Witsuiker
4 Groot Eiers
1K (250ml) Karringmelk
½ K (125ml) Grenadellamoes
350gr. Koekmeel
2 ½ tsp (12,5ml) Bakpoeier
Botterversiersel:
250gr. Botter, kamertemperatuur
500gr. Versiersuiker, gesif
¼ K (60ml) Grenadellamoes
2T (30ml) Melk
Metode:
Klits die botter en suiker met ‘n elektriese menger tot dit mooi lig van kleur is. Voeg nou die eiers een vir een by, wag totdat die eier goed ingemeng is voor jy die volgende een byvoeg.
Meng die bakpoeier en die koekmeel saam en hou eenkant.
Terwyl die menger op ‘n lae spoed is begin die koekmeel byvoeg en wissel dit as met die byvoeging van die karringmelk tot jy ‘n gladde beslag het.
Laastens kan jy die gredadellamoes ingooi, sodra dit ingemeng is kan jy die menger afsit en die beslag verdeel tussen twee koekpanne wat uitgevoer is met bakpapier. Gebruik jou lepel om die oppervlak gelyk te maak.
Bak die koeke in ‘n vooraf verhitte oond van 180’C vir 40-50 minute. Die koek is gaar as ‘n toetspen wat in die middel van die koek ingesteek word skoon uitkom.
Verwyder die koekpanne uit die oond en laat die koeke vir 10 minute in die panne afkoel voordat jy hulle uit die koekpanne verwyder. Laat die koeke kamertemperatuur beryk terwyl jy die versiersel maak.
Om die versiersel te maak begin deur die botter te klits tot lig van kleur. Stel die menger op ‘n lae spoed en skep die versiersuiker by. Sodra die glad is kan jy die melk byvoeg gevolg deur die gredadellamoes.
Sodra jy gereed is om die koek te versier kan jy die versiersel in twee verdeel en die bokante van elke koek smeer. Plaas nou die een koek bo-op die ander een en versier dit met eetbare blomme of vrugte.