Tuesday 24 July 2018

Blitsige souttert met broodkors



Blitsige souttert met broodkors

As jy min tyd het, slaan dié maklike resep, waar jy sommer winkelbrood vir die kors inspan, aanmekaar. Vir die vulsel, gebruik al daardie laaste bietjies in jou yskas op. Makliker kry jy nie!

 Kors...
¦ 6 snye witbrood, korsies verwyder
¦ Botter, vir smeer
¦ 15 ml heelkorrelmosterd
Vulsel
¦ 30 ml olie
¦ 1 pak (250 g) spekvleis, gesnipper
¦ 2 uie, gekap
¦ 2 knoffelhuisies, fyn gekap
¦ Halwe pak (250 g) sampioene, gesnipper
¦ 250 ml gerasperde cheddarkaas
¦ 6 eiers
¦ 180 ml volroommelk
¦ 45 ml gesnipperde stingeluie
¦ Sout en vars gemaalde swartpeper
Voorverhit die oond tot 160°C en smeer ’n middelslag-oondbak met botter.
Smeer elke sny brood eers met botter en daarna met ’n dun lagie mosterd. Voer die oondbak met die brood uit (met die gesmeerde kante na bo). Hou eenkant.
Verhit die olie in ’n pan en braai die spek daarin tot gaar. Voeg die uie en knoffel by en braai tot die uie sag is. Voeg die sampioene by en braai tot gaar. Skep uit in ’n bak en laat effens afkoel. Voeg die kaas by en roer deur. Skep die vulsel in die broodkors en versprei egalig. Klits die eiers, melk, stingeluie, sout en peper in ’n afsonderlike bak.
Giet oor die vulsel en wikkel die vulsel ’n bietjie met ’n vurk sodat die eiermengsel egalig kan deurloop. Bak vir ongeveer 20-30 minute tot ferm en goudbruin. Sit voor met slaaie van jou keuse. Lewer 4 porsies.
(Landbou)