Wednesday 28 June 2017

Mari-Louis Guy se skons



Mari-Louis Guy se skons
maak 12 – 15 skons

280 g (500 ml) koekmeel
10 ml bakpoeier...
2,5 ml sout
125 g (135 ml) koue botter, in blokkies gesny
1 eiergeel
125 ml melk
Growwe baksuiker (opsioneel)

Vir die room
250 ml vars room
30 ml versiersuiker
5 ml vanieljegeursel

Vir die vinnige kersiekonfyt
225 g (250 ml) bevrore kersies
100 g (125 ml) suiker
60 ml water

Meng die kersies, suiker en water in ’n kastrol oor matige hitte en laat prut tot dik en stroperig (sowat 15 minute). Laat afkoel.

Voorverhit die oond tot 200 °C. Gebruik ’n silikoonbakmat of spuit ’n bakplaat met kleefwerende kossproei.

Plaas die meel, bakpoeier, sout en botter in ’n voedselverwerker en pols saam. Meng die eiergeel met 60 ml melk. Gooi in die verwerker en pols tot die deeg bymekaar kom, voeg nog melk by indien nodig.

Keer uit op ’n werkoppervlak wat liggies met meel bestuif is. Vou die deeg met jou hande saam en vorm ’n ruwe sirkelskyf. Rol die deeg ongeveer 1 cm dik uit en druk klein 5 cm-sirkels uit met ’n koekiedrukker. Rangskik die skons op die bakmat of bakplaat. Smeer die bokante met die oorblywende melk en sprinkel growwe suiker oor, indien gebruik.

Bak vir 8 – 10 minute of tot die skons goed uitgerys is en die bokante goudbruin is. Laat heeltemal afkoel.

Gebruik die mengbak en die klitshegstuk van ’n elektriese menger en klits die room en versiersuiker tot stywe punte vorm. Voeg die vanieljegeursel by en klits deur.

Sny die skons middeldeur, smeer met kersiekonfyt en versier met room. Die room kan ook gegeur word deur die kersiestroop deur te roer.