Friday 23 June 2017

Knoffel-en-kaas-pizza



Knoffel-en-kaas-pizza
Knoffelolie
  • Meng 80 ml (1⁄3 k) olyfolie met 2 fyn gekapte knoffelhuisies
  • 1 basiese pizzadeeg (onderaan die resep)
  • olyfolie om oor te sprinkel
  • 125 ml (½ k) gerasperde parmesaan
  • 250 ml (1 k) gerasperde mozzarella
  • sout en gemaalde swartpeper
  • hand vol Italiaanse pietersielie, gekap
Voorverhit die oond tot 220 °C. Verhit ’n bakplaat in die oond.
1 Verdeel die deeg in 6 balle en rol elk op ’n meelbestrooide werkvlak uit in ’n ovaal van 25 cm.
2 Bak een pizza op ’n slag op die warm bakplaat en bak vir 5-7 min. tot bros. Haal uit en sprinkel die knoffelolie en kase oor.
3 Sit terug in die oond en bak tot goudbruin.
4 Strooi die pietersielie oor.


Basiese pizzadeeg
genoeg vir 6 dun middelslag-pizzas of 4 dikker middelslag-pizzas 
As jy nie tyd het om jou eie deeg te maak nie, koop brooddeeg by ’n bakkery.
1 000 ml (4 k) broodmeel
10 g (1 pakkie) kitsgis
10 ml (2 t) sout
375 ml (1½ k) louwarm water
30 ml (2 e) olyfolie

1 Meng die meel, gis en sout in ’n elektriese menger. Voeg die water en olie by terwyl die menger hardloop.
2 Knie die deeg vir 5 min. in die masjien tot glad en elasties, of vir 10 min. met die hand op ’n meelbestrooide werkvlak.
3 Sit die deeg in ’n skoon bak wat liggies met olie gesmeer is, smeer die deeg ook ligweg met olie. Bedek met ’n doek en laat rys tot dubbel die grootte.