Friday 7 April 2017

Eggs Benedict




Eggs Benedict

Begin met 'n geposjeerde eier...

water
125 ml witwyn-asyn
1 eier


Stap 1. Gooi water in ’n kastrol – dit moet so halfvol wees. Voeg asyn by. Bring tot kookpunt. Roer die water in een rigting totdat dit ’n soort van ’n maalkolk vorm.

Stap 2. Breek ’n eier oop in ’n koppie. Gooi die eier versigtig in die middel van die maalkolk in die water.

Stap 3. Laat staan en moet glad nie verder roer nie.

Stap 4. Wanneer die eierwit gestol het, lig die eier versigtig uit met ’n gaatjieslepel.

Wenke
Die water moenie vinnig kook nie. Die eierwit sal uitmekaar breek voor dit kans gekry het om te stol.
Vars eiers se eierwit stol vinnig. As die eierwit breek, weet jy die eiers is nie baie vars nie.
Die asyn help dat die eierwit vinniger stol.

Nou vir die lekker Hollandaise-sous

4 eiers
20 ml suurlemoensap
180 g (200 ml) ongesoute botter
sout en varsgemaalde swartpeper

Stap 1. Skei eiers en plaas eiergele en suurlemoensap in ’n versapper.

Stap 2. Klits eiers en suurlemoensap goed saam in die versapper.

Stap 3. Smelt botter en gooi in ’n beker. Voeg die gesmelte botter in ’n baie dun straaltjie by eiermengsel terwyl die versapper heeltyd loop. Dis soos om mayonnaise te maak.

Stap 4. Wanneer al die botter bygevoeg is, sal die sous die tekstuur van vla hê.

Om te weet
’n Baie ryk sous wat veral voorgesit word met aspersies of die ontbytgereg Eggs Benedict – ’n gehalveerde, geroosterde Engelse muffin met ham en ’n geposjeerde eier op elke helfte en dié sous bo-oor.