Friday 24 March 2017

HEUNING EN MOSTERD VARKRIBBETJIES



JAN BRAAI SE HEUNING EN MOSTERD VARKRIBBETJIES
Jy benodig (genoeg vir vier):
1,5 kg varkribbetjies
½ koppie heuning
50 ml Dijon-mosterd...
50 ml korrelmosterd
25 ml olyfolie
1 teelepel sout
Laat waai!

1. Maak die sous: Meng al die bestanddele (behalwe die ribbetjies) in ’n bak. As jy dinge eenvoudiger wil hê en net een soort mosterd wil gebruik, maak so, maar verdubbel die hoeveelheid.

2. Braai die hele stuk varkribbetjie oor matige hitte vir ’n halfuur totdat hy amper gaar is.

3. Haal die ribbetjie van die vuur af en sit hom op ’n kerfplank. Sny hom op in afsonderlike ribbetjies.

4. Roer die ribbetjies in die bak marinade rond en maak seker hulle is behoorlik gesous. Laat die ribbetjies vir ’n minuut of drie in die marinade lê sodat die vleis die sous kan absorbeer.

5. Braai nou die ribbetjies vir tussen twee en tien minute totdat die sous gekaramelliseer het. As jy met die snyery gesien het die ribbetjies is omtrent gaar en sal gou uitdroog, braai hulle net vir ’n minuut of twee. Maar as jy gesien het hulle is nog ver van gaar, braai hulle eerder vir 10 minute of selfs langer en laat hul sykante ook kole toe kyk.

Wenk: Ek verkies om die ribbetjies in een stuk te braai en dan eers te sny voordat ek hulle in die sous dompel. Dit voel vir my of die vleis – op die plekke waar ek die ribbetjies van mekaar losgesny het – dan die sous beter intrek omdat hulle nie toegeskroei is nie. Heuning voeg ’n unieke smaak by dié resep, maar jy kan dit ook met gouestroop vervang, maar dan noem jy dit “varkribbetjies in ’n goue mosterdsous”.