Tuesday 21 February 2017

Blomkoolpiekels



Blomkoolpiekels
Genoeg vir 2 x 750 ml-flesse
Bereidingstyd: 30 minute plus 24 uur weektyd
•1 middelslag-blomkoolkop, in blommetjies gebreek
•125 ml sout...
•2 liter water
•80 ml sout, ekstra
•1,2 liter witwynasyn
•200 ml suiker
•15 ml mosterdsaad
•1 vars rooi brandrissie of 5 ml gedroogde rissievlokkies
•1 rooi ui, in dun ringe gesny

Spoel die blomkool deeglik skoon af. Meng die 125 ml sout en 2 liter water en laat die blomkool 24 uur lank in dié soutwater lê. Dreineer.

Meng al die oorblywende bestanddele, behalwe die uie, saam en bring dit tot kookpunt. Roer tot die suiker opgelos is. Voeg nou die blomkoolblommetjies by en kook vir sowat 3–5 minute. Voeg die uie vir die laaste minuut by. Die tekstuur moet bros wees en nie pap of moeserig nie.

Pak die groente netjies en taamlik reëlmatig in warm, gesteriliseerde flesse. Herverhit die piekelvloeistof tot kookpunt en giet dit oor die groente in die flesse. Seël die flesse terwyl dit nog warm is.

Wenk: Laat piekels 1-2 maande lank op ’n koel plek ryp word.

• Murgpampoentjiepiekels Vervang die blomkool met murgpampoentjies wat in lang repe of in skyfies gesny is, maar laat dit net vir 1 uur in die soutwater lê, pleks van 24 uur soos by die blomkoolpiekels. Kook die murgpampoentjies ook effens korter in die pekel omdat hulle geneig is om gouer pap te kook.

• Kerriegroenboontjiepiekels Sny 1 kg jong groenboontjies in stukkies en kap 500 g uie. Kook dit in ’n klein bietjie water tot net sag, en dreineer. Verhit 1 liter witasyn, 30 ml koekmeel, 500 ml suiker en 15 ml matige kerriepoeier saam. Roer totdat die suiker opgelos is. Voeg die boontjies en uie by sodra dit begin kook en kook vir 3–5 minute. Verwyder van die hitte en pak in warm, gesteriliseerde flesse. Seël die flesse.

• Wortelpiekels Skil of skraap 1 kg jong worteltjies en kook dit in ’n klein bietjie water tot net sag. Dreineer en pak dit in inmaakflesse. Druk ’n lourierblaar in elke fles. Kook 2–3 gekapte knoffelhuisies, ’n gekapte groen soetrissie, 250 ml witasyn, 125 ml water, 80 ml suiker, 15 swartpeperkorrels en 7 ml sout saam totdat die suiker opgelos is. Giet dit oor die wortels in die flesse en seël terwyl dit nog warm is.

• Rooikoolpiekel Sny die stronk af en sny die rooikool in dun repies. Pak die koolrepies in lae in ’n bak en strooi sout oor elke lagie – 50 g sout vir elke 600 g rooikool. Laat staan vir 24 uur. Spoel deeglik af onder vars water en dreineer. Verhit 500 ml witasyn, 15 ml wonderpeper en 15 ml swartpeper saam. Pak die kool in gesteriliseerde flesse en vul dit met die asynmengsel.