Thursday 18 August 2016

’n Blik vol tuisgebakte beskuit




’n Blik vol tuisgebakte beskuit
Bestanddele
500g (500ml) botter...
500ml olie
100g (500ml) semels
360g (4 x 250 ml) hawermout
300g (375ml) suiker

10ml sout
250ml sonneblomsade
125ml papawersaad
250ml sesamsaad
250ml lynsaad
1,7kg (12 x 250 ml) koekmeel
80ml bakpoeier
45ml vanieljegeursel
1 liter karringmelk of suurmelk met nog 15ml vanieljegeursel (sien wenk)
Metode
1. Voorverhit oond tot 180°C. Smeer en voer bodem van twee groot broodpanne of 1 x 24 cm en 2 x 20 cm koekpanne met die botterblok se papier of ander botter- of bakpapier.
2. Plaas botter en olie in ’n groot emalje-mengskottel oor lae hitte op ’n stoofplaat tot net gesmelt of plaas dit in die oond wat warm word, tot gesmelt. Die mengsel moenie kook nie. (Wees versigtig – die skottel word vinnig warm.) Of smelt botter en olie oor lae hitte in ’n kastrol of in mikrogolfoond en skink in ’n groot mengbak.
3. Strooi droë bestanddele in die volgorde wat dit gelys word, een vir een in ’n eweredige laag oor die warm bottermengsel. Vryf warm mengsel met jou vingerpunte by droë bestanddele in tot dit redelik krummelrig lyk. Daar moet geen droë meel of groot klonte sigbaar wees nie.
4. Meng vanielje en karringmelk of suur melk saam. Maak ’n holte in die meelmengsel en skink vloeistof by. Meng weer met jou hande tot ’n deeg vorm. Voeg ’n bietjie ekstra melk by indien dit te droog voel of nog hawermout as dit te slap is. Die deeg moet styf genoeg wees dat jy groot handevol maklik in die panne kan ‘skep’.
5. Verdeel deeg tussen panne en maak liggies bo-op gelyk. Bak 50-60 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Keer beskuit uit en laat op afkoelrakkies tot heeltemal afgekoel.
6. Sny met ’n broodmes in vingertjies of breek met ’n vurk in stukkies. Plaas in ’n enkellaag op die oond se bakplate of ander vlak bakplaat en droog teen 70-100°C ongeveer 6 ure of oornag uit. Hou die oonddeur vir die uitdroogproses oop. Laat beskuit afkoel en verpak lugdig.
Wenke:
1. Enige van die sade kan met grofgekapte rou amandels vervang word.
2. Vries enige melk wat effens begin suur word, in plaas daarvan om dit weg te gooi – dis ideaal vir beskuitbak.
3. Die beskuit kan in enige brood-, koek- of diep oondpan gebak word. Hou in gedagte dat die grootte van die pan die baktyd kan laat varieer.