Thursday 21 July 2016

Appelkoos-en-hawermoutblokkies



Appelkoos-en-hawermoutblokkies
Jy kan die appelkose ook met dadels en neute vervang.
Maak: 16-24 blokkies, na gelang van die grootte
Bereidingstyd: 20-25 minute
Baktyd: 30 minute
Oondtemperatuur: 180 °C
Jy benodig
•330 ml (160 g) koekmeel
•125 ml (100 g) sagte bruinsuiker
•135 ml (115 g) strooisuiker
•1 ml sout
•5 ml bakpoeier
•180 g ongesoute botter, koud en in blokkies gesny
•400 ml (130 g) hawermout
•250 ml (80 g) klapper
•750 ml (450 g) droë appelkose, gesnipper
•80 ml appelkooskonfyt
Metode
1 Voorverhit die oond. Smeer ‘n bakplaat of koekpan van sowat 33 x 23 cm en voer die bodem met gesmeerde bakpapier uit.
2 Gooi die koekmeel, bruinsuiker, strooisuiker, sout, bakpoeier en botterblokkies in die bak van ‘n voedselverwerker en pols totdat dit gemeng is en soos droë broodkrummels lyk. (Jy kan ook die droë bestanddele saam sif en die botter met jou vingerpunte daarby invryf.)
3 Meng die hawermout en klapper by en skep dan ‘n koppie van dié krummelmengsel uit en hou dit eenkant.
4 Druk die orige mengsel in die voorbereide bakplaat vas sodat dit die bodem bedek.
5 Gooi die appelkose en 125 ml water in ‘n kastrolletjie en verhit dit oor lae hitte tot kookpunt. Prut tot die vloeistof verdamp het en die appelkose sag is. Wag tot die mengsel heeltemal koud is en skep dit oor die deeglaag. Stip die konfyt oor die appelkose en krummel laastens die koppie krummelmengsel oor. Bak dit vir sowat 30 minute of totdat dit goudbruin en gaar is. Sny dit in skywe sodra dit afgekoel het.
Variasie
Vervang die applekose met die vulsel om dadel-en-neutblokkies te maak:
•Dadelvulsel
•500g dadels,fyn gekap
•125ml water
•30ml suurlemoenskil,gerasper
•30ml vars suurlemoensap
•100g gekapte neute
Metode
1 Prut al die bestanddele (behalwe die neute) saam in ‘n kastrolletjie totdat dit dik en glad is. Dadels is soeter as appelkose en daarom het jy nie appelkooskonfyt nodig nie. Strooi die gekapte neute bo-oor.