Wednesday 25 May 2016

Slow Cooker / Prutpot Wenke



Kry só die beste uit jou prutpot-geregte:
• Moenie gevriesde vleis gebruik nie. Ontvries altyd vleis en hoender voordat jy dit in die prutpot sit.
• Gebruik kleiner stukke. Sny heel hoenders en groot stukke vleis in kleiner stukke om seker te maak dit word heeltemal gaar.
• Pak jou bestanddele in lae. Groente moet op die bodem en teen die kante van die pot gepak word en die vleis dan bo-op.
• Maak die prutpot minstens halfpad vol en nie meer as driekwart vol nie.
• Hou die deksel op. Elke keer as jy die deksel oplig, word die kooktyd met tussen 15 en 25 minute verleng.
Prutpot-wenk 2
• Begin VROEG GENOEG: As jy twee ure voor aandete eers wakkerskrik, gaan jou resultate teleurstellend wees – gewáárborg! HOE LANGER die kooktyd, HOE BETER ontwikkel die geure, hoe sagter is die vleis en hoe meer karamellisering is daar. Daai ekstra uur of twee in die prutpot maak al die verskil tussen net-net gaar (bleek en smaakloos), of val-van-die-been-af sag en geurig!
Prutpot-wenk 3
• SMEER/VOERING JOU POT: As jy die prutpot se binnekant met ’n kleefwerende kossproei bespuit of met botter of olie smeer voordat jy dit met kos vul, is die skoonmaak agterna sommer kinderspeletjies! ’n Handige ding is ‘n ‘spritzer’: vul met kookolie en bespuit jou pot 1-2-3. Aluminiumfoelie kan gebruik word om groter vleisstukke saam met die groente in toe te draai: behalwe dat jy die pot beskerm, is die vleis heerlik sappig. In Amerika kry ’n mens ‘crockpot liners’, maar jy kan ook baksakkies gebruik: bietjie duur, maar handig wanneer jy jou pot kos na ’n geleentheid moet vervoer: bind bloot die nek toe en niks sal uitmors nie!
Prutpot-wenk 4
• DROëBONE MOET VOORAF GEKOOK word: Sekere rou peulgewasse soos rooi ‘kidney beans’ (so ook SOJABONE) bevat die TOKSIEN phytohaemagglutinin wat nie deur die lae hitte van ’n prutpot vernietig word nie. Week die bone vooraf vir ten minste 6 ure. KOOK 10 MINUTE VINNIG om die toksien te vernietig. Spoel af en plaas dan saam met die ander bestanddele in die prutpot.
Prutpot-wenk 5
• RAAK ONTSLAE VAN VET: Kos wat in olie swem is allermins aptytlik – OF gesond! Verwyder vooraf enige hoendervelle en sigbare vet, of laat vetterige vleis/maalvleis eers bietjie uitbraai in ’n pan. Teen die einde van die kooktyd kan jy dan die vleissouse uit die prutpot afgooi en die vet afskep voor jy dit weer in die pot teruggooi en volgens jou voorkeur verdik. Of gebruik ysblokkies: die vet klou onmiddellik daaraan vas. Skep dadelik af voor die ys smelt en gooi by jou dierasies se pap of korrels.
Prutpot-wenk 6
• BRAAI/VERBRUIN: Vir bredies is dit NIE NODIG om uie en vleis vooraf te braai nie. Jamie Oliver het verskeie toetse gedoen en bevind daar’s geen smaakverskil in die eindproduk nie. So spaar jouself die ekstra moeite en vuil skottelgoed! Plaas jou vleis en groente NET SO ROU in die prutpot.
Prutpot-wenk 7
• MAALVLEIS: Moet liefs vooraf VERBRUIN word, anders vorm dit klonte. Dreineer om van die oortollige vet ontslae te raak. (Ek het dit nie gedoen nie – het dit so ’n paar keer tydens die gaarmaakproses geroer, want dit HET klonte gevorm!) Vir ’n MAALVLEISGEREG, plaas die rou maalvleis saam met al die geurmiddels in die prutpot. Of maak FRIKKADELLE volgens jou gebruiklike resep: plaas net so rou in die prutpot en bedek met enige souserigheid van jou keuse. Of vorm in ’n ‘meat loaf’ en draai toe in foelie. Kook vir 6 – 8 ure op LOW.
Prutpot-wenk 8
• BRAAISTUKKE/BOUDVLEIS: Groter stukke vleis moet verkieslik in twee verdeel en vooraf in ’n warm pan verseël word om die vleissappe binne te hou tydens die gaarmaakproses. As jy bang is dat dit sal droogkook of brand, plaas dit bo-op ’n laag aartappels: sny die aartappels in die lengte deur en plaas met die plat kante onder in die prutpot. Plaas dan die ander groente bo-op, gevolg deur die vleis. Vryf die vleis vooraf in met botter, knoffel en geurmiddels – niks verder is nodig nie. Kook vir 4 – 6 ure op HIGH, of 8 – 10 ure op LOW. (Aldus Jenny Morris, die ‘Giggling Gourmet’.)
Prutpot-wenk 9
• WORTEL- en KNOLGROENTE: Sny aartappels, wortels en rape in KLEIN, EWE GROOT STUKKE sodat alles min of meer dieselfde tyd sal gaar word. Plaas ONDERIN die bak, met die ander bestanddele bo-op. Dit sal verseker dat die groente in die kossappe sagkook. (As jou aartappels nie wil sag kook nie, is dit waarskynlik omdat dit nie deur kos of vloeistof bedek was nie.) Groente soos murgpampoentjies of sampioene wat vinnig gaar word, kan ’n halfuur tot ’n uur voor opdientyd bygevoeg word.
Prutpot-wenk 10
• VLOEISTOF: Die vloeistof dien as geleier van die geur en hitte en verseker dat al die kos teen dieselfde temperatuur gaar word. Dis meestal nie nodig om aan die begin van die gaarmaakproses vloeistof by die kos te voeg nie: Die kossappe kondenseer teen die deksel en val terug in die pot om SY EIE SOUSIE te vorm. Indien nodig kan jy wel later die vloeistof aanvul: hoe langer die kooktyd, hoe groter die risiko dat die kos kan droogkook. Soos wat jy jou prutpot leer ken, sal jy leer hoeveel vloeistof nodig is – alle potte verskil.
Prutpot-wenk 11
• HOENDER: Moet liefs nie ’n prutpot gebruik om HEEL HOENDER gaar te maak nie: Die binnekant van die hoender bereik nie vinnig genoeg ’n veilige temperatuur om die vermeerdering van bakterieë te verhoed nie. Verdeel die hoender eerder in kleiner porsies. As jy egter ’n vleistermometer het, kan jy gebruik dit om die interne temperatuur van ’n heel hoender te meet om seker te maak dat alle bakterieë gedood is.
Prutpot-wenk 12
• RYS: ’n Prutpot is ideaal om groot hoeveelhede rys gaar te maak: die korrels is lekker los en uitgeswel – nie klewerig soos op die stoof nie. Gebruik 2 koppies water en 1 t sout vir elke 1 koppie rys (2 ½ koppies water vir elke 1 koppie bruinrys). Kook 6 – 8 ure op LOW, of 2 – 3 ure op HIGH (gaan loer elke 45 min). Jy kan ook vars of bevrore GROENTE en geurmiddels byvoeg, maar voeg net ’n bietjie ekstra water by indien nodig. Vir ’n lekker neuterige, gesonde variasie, voeg ½ kop rou LENSIES en 1 ekstra koppie water by vir elke koppie rys wat jy gebruik. Of roer teen die einde gaar BONE by vir ekstra voedingswaarde.