Monday 16 May 2016

Gepekelde rooikool



Gepekelde rooikool

Dié resep is geïnspireer deur ’n Annette Human-resep uit haar boek Lekker vir later. Sit dit voor saam met rokerige kaaswors in broodrolletjies, of saam met geroosterde hoender
of viskoekies. Die suur smaak is verslawend lekker!

Genoeg vir: 1 groot fles
Bereidingstyd: 25 minute, plus staantyd
Gaarmaaktyd: 5 minute

Bestanddele:
• 1 groot rooikool
• 500 ml witwynasyn
• 10 gemengde peperkorrels
• 10 wonderpeperkorrels

• 1 duim vars gemmer, gerasper
• 5 ml rissievlokkies
• 2 lourierblare

1 Verwyder die twee of drie harde buiteblare van die kool en sny die kool in die helfte. Verwyder die wit kern en snipper die kool fyn. Sprei die koolsnippers in ’n dun laag uit en
sprinkel sout oor. Laat dit oornag of minstens 2 uur staan.

2 Bring die asyn en speserye saam tot kookpunt en kook vir 1 minuut. Verwyder dit van die hitte en laat dit afkoel. Syg die asyn deur ’n siffie.

3 Spoel die kool met vars water af en dreineer goed. Pak die kool styf in ’n gesteriliseerde glasfles. Giet die afgekoelde asyn bo-oor en bedek die fles met kleefplastiek. Hou dit in die yskas vir sowat 10 dae dat die geur kan ontwikkel. Verseël dan die fles en bêre dit totdat jy dit wil gebruik.