Tuesday 1 December 2015

MAAK DIE PERFEKTE CREME BRULEE




MAAK DIE PERFEKTE CREME BRULEE
Maak:
6
Bereidingstyd: 20 minute
Gaarmaaktyd: 1 uur
Oondtemperatuur: 150 ºC
600 ml room
1 vanieljepeul
4 groot eiergele
175 ml (150 g) strooisuiker
GEUR VARIASIES:
Probeer die volgende:
Vir crème brûlée met ‘n effense spesery-geur, laat prut een kaneelstokkie of ses kardemomsade saam met die room. Haal dit uit voor jy die eier byvoeg.
Maak sjokolade crème brûlée deur 50 g donkersjokolade by die warm room te voeg. Roer tot gesmelt.
METODE:
Gooi die room in ‘n swaarboomkastrol en verhit dit oor lae hitte.
Sny die vanieljepeul middeldeur en skraap die saadjies in die room.
Gooi die peul ook in die room en verhit dit tot net voor die room begin kook.
Haal dit van die plaat af en laat dit vir 10 minute trek.
Haal dan die peul uit en gooi dit weg.
Klop die eiergele en 50 g van die strooisuiker saam in ‘n
bak. Gooi ‘n bietjie van die warm room by die eiermengsel, roer goed en voeg dan
die res van die room by.
Verdeel die mengsel tussen ses ramekins. Pak die ramekins in ‘n roosterpan en gooi genoeg warm water in die pan om tot halfpad teen die
ramekins op te kom.
Bak vir ‘n uur in die verhitte oond of tot gestol. Haal uit die oond, haal die ramekins uit en laat dit eenkant afkoel.
Sit dit dan vir twee uur of oornag in die yskas.
Gooi die res van die strooisuiker in ‘n pan en verhit dit liggies tot die suiker smelt.
Laat prut sonder om te roer tot die mengsel ‘n karamelkleur kry.
Gooi die karamel in ‘n liggies gesmeerde bakplaat. Sit eenkant om hard te word.
Breek die karamel op in kleiner stukkies en gooi dit in ‘n voedselverwerker. Pols dit tot fyn kristalle vorm.
Skep ‘n lagie kristalle op elke bakkie vla. Maak jou oond se roosterelement vuurwarm.
Pak die ramekins op ‘n bakplaat en sit dit onder die
rooster tot die kristalle smelt en ‘n ligte goudbruin kleur kry. Haal uit die oond en laat die karamel stol voor jy dit voorsit.