Thursday 1 October 2015

Ons uitdaging aan julle vir Oktober maand

Dis 01 Oktober en nou AMPTELIK lente – Die mooiste mooiste maand. 
Dink net hoe wonderlik moet dit wees om oral so ver as wat jy af ry in jou woonbuurt, net blommetjies in almal se tuine te sien.  Ja ek weet dit werk ongelukkig nie altyd so nie.  Sommige woonbuurte is maar leeg en die tuine nie juis voorblad mooi nie.  Die grootste rede dalk omdat ons almal eenvoudig net nie meer die geld of tyd het vir groot duur tuine nie.  Maar hier is ‘n maklike idee – of dit gaan werk gaan van jou en jou bure afhang:
ONS UITDAGING AAN JULLE: 
Gesels met die mense in jou straat.  Begin met jou bure en vra hulle om die boodskap ook verder te dra na hulle bure aan die ander kant.  Elkeen hoef net een (of twee) pakkies blomsaad te koop.  (Onder R20 in die winkels) en saai dit in die tuin waar dit mooi sigbaar van die pad se kant sal wees.  Dit kan enige blomsaadjies wees.  Kosmos, Sonneblomme, Portulaca, Marigolds / Afrikanertjies, Mixed flowers…..  Gooi sommer alles deurmekaar in die tuin en kyk net hoe mooi gaan jou straat lyk oor Kersfees en die somer maande.  ‘n Ware lushof vir die oog.  Komaan – wat het jy om te verloor….?   As julle nie kans sien vir saadjies koop nie, deel malva steggies met mekaar – hulle groei selfs in die hande van die mees onervare tuiniers en blom in oorvloed.  En terwyl julle besig is, gooi sommer saadjies op die sypaadjie (as dit nie geteer is nie)….
En sodra jou straat om getower is in ‘n blommeland – sit vir ons fotos op ons  facebook blad en deel julle suksesverhaal met die wereld.  Dis mos iets om op trots te wees.