Thursday 10 September 2015

Piekniekterrien




Piekniekterrien
Dié “terrien”, ’n moderne weergawe van die Franse se pan bagnat, is een van my gunstelinge as ek ’n piekniekmandjie pak. Dit lok ook altyd vele komplimente uit.
...
Genoeg vir: 8
Bereidingstyd: 30 minute
Oondtemperatuur: Rooster
3 rooi of geel soetrissies
2 groot eiervrugte
olyfolie
1 ovaalvormige Portugese brood
1 pakkie songedroogde tamaties in vinaigrette en/of olyfolie
3 vet knoffelhuisies, gekneus ’n hand vol vars basiliekruid
200 g mozzarellakaas, in skyfies gesny
basiliekruidpesto
salami, ham of parmaham
1 Sny die soetrissies in kwarte en pak dit met die skilkant na bo op ’n bakplaat. Sit die bakplaat so na as moontlik aan die roosterelement en rooster totdat die skilletjies swart gebrand is. Lig die soetrissiekwarte van die bakplaat, laat staan totdat dit afgekoel het en trek dan die swart skille af. (Moenie die soetrissies onder ’n kraan afspoel nie – jy sal al die geur wegspoel.)
2 Sny die eiervrugte in die lengte in skywe van sowat 5 mm dik. Verf die skywe met olyfolie, pak dit langs mekaar op ’n bakplaat en rooster tot mooi goudbruin aan albei kante.
3 Sny die boonste kwart van die brood af en haal die “deksel” af. Hol die brood uit tot sowat 1½ cm van die kant en die bodem af. (Moenie die broodkrummels
weggooi nie – droog dit en bewaar dit in die vrieskas om later te gebruik.)
4 Dreineer die songedroogde tamaties, maar behou die vinaigrette en/of olyfolie. Meng die knoffel met die vinaigrette en/of olyfolie en verf die uitgeholde brood aan die binnekant hiermee.
5 Pak die helfte van die eiervrugskywe op die bodem van die brood, gevolg deur die helfte van die soetrissiekwarte. Nou volg ’n laag basiliekruidblare en dan ’n laag mozzarella. Verf die mozzarella met basiliekruidpesto en pak laastens ’n laag salami, ham of parmaham bo-op. Herhaal die lae totdat al die bestanddele opgebruik en die brood tot bo gevul is. Drup ’n bietjie olyfolie oor en sit die “deksel” terug.
6 Draai die brood stewig in aluminiumfoelie toe en sit dit op ’n houtplank. Sit nog ’n houtplank bo-op die brood met ’n gewig bo-op, byvoorbeeld ’n paar blikkies kos. Dit moet redelik swaar wees omdat dit die brood en vulsel moet kompakteer. Sit die brood met planke en al in yskas vir minstens ’n paar uur of oornag. Haal dit weer betyds uit die yskas sodat dit kamertemperatuur kan bereik voordat jy dit sny en voorsit.
Pan bagnat (“nat brood”) is ’n Franse volkstoebroodjie wat tradisioneel met ’n baguette gemaak word. Dit word net lekkerder hoe langer dit staan omdat die brood die geure van die vulsel opsuig.
(Tuis)