Friday, 14 August 2015

Frikkadel-kerrie




Frikkadel-kerrie
Genoeg vir: 4-6
Bereidingstyd: 40 minute
Gaarmaaktyd: 25 minute
...
• 20 ml sonneblomolie
• 2 stukke kassia
• 6 naeltjies
• 5 ml swart mosterdsaad
• 2 middelslag-uie, fyngekap
• 2 wortels, in blokkies gesny
• 7 ml fyn koljander
• 15 ml fyngerasperde vars gemmer
• 3 groot knoffelhuisies, fyngedruk
• 1-3 vars rissies, fyngekap
• 5 ml borrie
• 5 ml fyn komyn
• 1 blik (400 g) pruimtamaties
• frikkadelle (resep hieronder)
• saadjies van 6 kardemompeule, fyngemaak
• 30 g vars koljander, gekap
• 250 ml Bulgaarse jogurt
1 Verhit die olie in ’n kastrol en voeg die kassia, naeltjies en mosterdsaad by. Voeg die ui en wortel by sodra die mosterdsaad begin skiet en roerbraai dit tot dit sag is.
2 Voeg die koljander, gemmer, knoffel en rissies by en roer dit deur.
3 Roer die borrie en komyn by, gevolg deur die tamaties. Geur dit met sout, peper en ’n knypie suiker. Voeg 250 ml water by en verhit dit tot kookpunt.
4 Voeg die frikkadelle een-een by die pruttende sous. Roer dit ’n paar keer versigtig rond terwyl dit kook om te keer dat dit aan die bodem vassit, maar oppas om dit nie te breek nie. Laat dit vir 10-15 minute prut tot dit deurgaar is.
5 Roer die fyngemaakte kardemom-saadjies en vars koljander by. Roer die jogurt by, indien verkies, of sit dit in ’n aparte bakkie voor. Sit die kerrie voor met ’n kool-en-wortel-sambal (resep hieronder), poppadoms en rys.
Frikkadelle
Gooi een fyngekapte ui, een sny korslose brood en een eier in ’n bak en meng dit saam. Voeg 500 g varkmaalvleis (of lams- of maer beesmaalvleis) by, asook een fyngerasperde wortel, 10 ml bees-aftrekselpoeier en 10 ml papawer-saad, en meng dit goed deur. Hou die mengsel in die yskas tot jy die kerrie wil maak. Rol die vleismengsel in bolletjies en dan in meel voor jy dit in die sous sit om gaar te word.
Kool-en-wortel-sambal
Meng 250 ml grofgerasperde wortel met 250 ml fyngesnipperde kool. Voeg 50 g droë klapper, 2 ml strooisuiker, 30 ml lemmetjie- of suurlemoensap en ’n ontpitte fyngekapte rissie (opsioneel) by. Verhit 30 ml sonneblom- of grondboonolie en braai 1 ml komynsaad, ’n knypie mosterdsaad en agt kerrieblare by. Roerbraai dit oor matige hitte vir 30 sekondes, skep dit oor die sambal en roer dit deur voor jy dit met ’n bietjie sout geur, indien verkies.